 |
|
|
Dát jy lees, is minder belangrik as wát jy lees
Oor die belangrikheid van lees is daar al baie navorsing gedoen en geskryf. Niemand betwyfel die noodsaaklikheid daarvan nie. Dit bou woordeskat en spelling, dit help met konsentrasie, dit ontwikkel begrip en analitiese vermoëns, dit bevorder skryf- en kommunikasievaardighede, verbeter die leser se algemene kennis, ensovoorts. Hierdie dinge is alles die gevolg van die feit dát ons lees.
“Die pen is magtiger as die swaard” is ’n spreekwoord wat die belangrikheid van wat jy lees beklemtoon. Die inhoud van leesstof het ’n groot invloed op dinge soos jou lewens- en wêreldbeskouing, waardes en beginsels. Die opdrag van die Woord is dat gelowiges “in die gees van hulle gemoed” vernuwe moet word (vgl. Efés. 4:23). Die dinge wat op ons denke inspeel, is die dinge wat ons denke en ons uitkyk oor bepaalde sake vorm en beïnvloed.
Dit is dus baie belangrik om goeie keuses te maak ten opsigte van die inhoudelike. Dit geld vir kinders en volwassenes. Maak seker dat die inhoud van kinderliteratuur in Bybelse waarhede ingebed is en dit nie weerspreek of uitdaag nie. Kies inhoud wat die fondamente stewig lê, sodat wanneer kinders later deur meer kontroversiële leesstof uitgedaag word, hulle makliker in staat is om die waarheid van die leuen te onderskei. Dieselfde geld vir volwassenes. Hulle blootstelling aan uiteenlopende standpunte is nog meer. Daarom is dit nodig om voortdurend die vaste fondamente met goeie inhoud te bevestig, sodat ons nie soos golwe heen en weer deur vreemde standpunte rondgeslinger word nie (vgl. Efés. 4:14).
... alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit (Filip. 4:8).
|
|
 |
DIT HET GEBEUR |
|
Ds. Schalk Strauss was ’n gas op die gewilde kykNET program “Met ’n huppel in die stap” op 23 Maart 2022. Die “Ons Lig Luisterstories”-projek in samewerking met ONS TUIS aftreeoorde, het soveel aandag getrek dat die kanaal ’n hele episode daaroor geskiet het. Laai gerus die luisterstories hier af.

Lig in Duisternis Uitgewers het ook ’n baie suksesvolle boekuitstalling by CVO-skool Pretoria op 15 en 16 Maart gehad. Ons is dankbaar vir die skool se ondersteuning en streef steeds daarna om Bybelsgetroue en ander behoudende Afrikaanse literatuur vir ons jeug in Suid-Afrika en aan Christene wêreldwyd te verskaf.
|
|
ONS SIEN UIT NA: |
|
Die vertaling van Jonathan Edwards se beroemde preek “Sinners in the hands of an angry God” (Sondaars in die hand van ’n toornige God) is tans by die drukkers en behoort eersdaags beskikbaar te wees.
'Ds. Schalk het aan ons almal ’n groot diens gelewer deur hierdie beroemde preek van Jonathan Edwards in Afrikaans te vertaal. Lees gerus hierdie ernstige, dog besonderse preek waarin Edwards uitnooi:
“Julle het ’n buitengewone geleentheid, ’n dag waarop die deur van Christus se genade wyd oopstaan. Hy staan in die deur. Hy roep na en pleit met ’n groot stem by arme sondaars. Dit is ’n dag waarop baie na Hom sal kom en die koninkryk sal binnegaan.” '
PROF. DR. ADRIAAN C NEELE,
JONATHAN EDWARDS CENTER, YALE UNIVERSITY
Die lees van hierdie boek word ten sterkste aanbeveel.
|
|
|
|
 |
|
|