Plaas media@liginduisternis.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie, kyk na die aanlyn-weergawe.

11 - 2023

Wanneer jy die woord “Kersfees” hoor, wat is die eerste gedagte wat by jou opkom? Spesiale tye saam met vriende en familie, Kersgeskenke, ‘n Kersboom, ‘n vakansie by die see?

Wanneer jy op Oukersaand of Kersdag saam met vriende en familie kuier, lag en geskenke oopmaak, of rondry om die Kersliggies in jou omgewing te besigtig, onthou dan waaroor die feesseisoen werklik gaan. Die gesellige byeenkomste saam met familie, waar Kersliedere gesing word en lekkernye jou maag wil laat bars, is nie net 'n viering van die verbondenheid aan mekaar nie, maar ook 'n herinnering aan die liefde, die fokuspunt van die Kersverhaal. Hierdie tradisies moet ons allereers herinner aan die nederige geboorte in 'n stal, 'n gebeurtenis wat hoop en verlossing vir die wêreld gebring het.

Ons leef in 'n wêreld waar Kerstyd deur buitensporige geskenkuitruilings en skouspelagtige vertonings oorheers word. Hierdie feestyd nooi ons jou uit om verby die oppervlakkige klatergoud te kyk en te onthou waaroor dit alles werklik gaan.

Wanneer die liggies om jou glinster en die klanke van Kersliedere die lug vul, neem 'n oomblik om dieper in jou hart te delf. Onthou dan dat Kersfees ‘n viering van die geboorte van ons Verlosser is – 'n Kindjie wat nie net in 'n stal gebore is nie, maar steeds in die harte van mense regoor die wêreld leef.

Mag hierdie Kersfees 'n herinnering wees dat ware vreugde nie in materiële dinge lê nie, maar in die gawe van liefde, vriendelikheid en omgee vir mekaar. Mag ons nie vergeet nie dat die grootste geskenk van almal nie in glanspapier verpak is nie, maar in die hande van ons naaste.

Gebeure

Helpende Hand se Liewe Leser-projek maak 'n draai by Lig in Duisternis Uitgewers.

Helpende Hand se Liewe Leser-projek het 'n draai by Lig in Duisternis Uitgewers gemaak om ‘n baie spesiale brief af te lewer. Hierdie brief is deel van hul Liewe Leser-projek. Daarmee wil die organisasie aan spesifieke persone en organisasies wat draers van hoop in 'n gemeenskap is, ‘n persoonlike skrywe rig.

Kyk die video hier.

Ds. Schalk Strauss, Publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers, het in November met Johann Els van Radiokansel gesels oor sy artikel wat deur Maroela Media gepubliseer is. “Speek met integriteit, luister met onderskeiding” spreek die verantwoordelikheid van meningsvormers aan.

Luister hier.

 

Dagboek vir Desember

  • 6 Boekbestellings sluit
  • 16 Geloftedag
  • 25 Kersdag

Boekfokus

Boustene van die Koninkryk – Graad 1 & 2
Kindle-skakel: https://amzn.to/3Q5KamE

Teoloog en skrywer, ds. Henning Dafel, en illustreerder, Ester van Deventer, het onlangs saamgewerk om die eerste twee boekies van ‘n reeks, Boustene van die Koninkryk (Gr. 1 & 2), te laat realiseer. Dié boekies is deur Lig in Duisternis Uitgewers gepubliseer en is tans te koop.

Die boekies is elkeen op ‘n spesifieke jaargroep gemik en bevat 27 Bybelverhale uit die Ou en Nuwe Testament, in maklik verstaanbare Afrikaans. Dit is propvol kleurvolle illustrasies, inkleurprente, plakkers en opbouende Bybelverse om te memoriseer. Saam wil die boeke, in breë trekke, jonger verbondskinders die groot verhaal van die Bybel laat beleef, verstaan en ken.

Ds. Dafel sê sy twee kinders (onderskeidelik vier en sewe), was die inspirasie agter sy besluit om met hierdie reeks te begin. “Ek wil graag sien dat hulle in die Bybel geanker is,” sê hy.

Hy verwys terug na die begin van sy eie laerskooljare en onthou hoe juffrouens Reinet Botha en Yvonne Goosen baie moeite gedoen het om hom en sy klasmaats te help om Bybelverse te memoriseer. Baie van hierdie verse onthou hy tot vandag toe! Dit is juis om hierdie rede dat ds. Dafel besluit het om memoriseringstekste by die Bybelverhale in te sluit.

“Ek gebruik dit self as ‘n hulpmiddel met aandgodsdiens. Ek lees die vers wat vir memorisering bedoel is en verduidelik dan die gedagtes daarin. Daarna werk ons deur die verhaal wat in ses tot agt minute deurgelees kan word. Ons doen ook moeite om deur die vrae te werk sodat die verhaal ‘n bietjie vasgelê kan word.”

“Soos wat ‘n mens met die werk van die Here besig is, bring Hy dikwels baie talentvolle mense oor jou pad,” vertel ds. Dafel oor die samewerking met Ester van Deventer, wat die illustrasies vir die boekies gedoen het.

“Ek het die eerste boek self probeer illustreer, maar gou besef dat die werkslading eenvoudig te veel is. Dit is juis toe dat die publikasiebeampte by Lig en Duisternis Uitgewers my gekontak het met nuus dat hulle ‘n uiters talentvolle illustreerder in die oog het.”

Ester, wat reeds as vierjarige saam met haar ouma uit tydskrifte geteken het, is baie trots op die eerste publikasie waarin haar illustrasies verskyn.

“Dit was báie lekker om die boekies te illustreer. As daar kritiek gelewer is, was dit altyd baie eerlik en opbouend,” sê sy.

Ester noem dat sy baie vryheid met die illustrasies gehad het en dat Lig in Duisternis Uitgewers se riglyne was dat dit “eenvoudig, maar vol emosie” moes wees.

“Ek is baie dankbaar en opgewonde oor die manier waarop sy die boekies tot ‘n heel nuwe vlak kon lig,” sê ds. Dafel. “Soos haar naam sê, is sy inderdaad ‘n ster.”

Ds. Dafel se droom sluit ‘n volledige bundel van Bybelverhale vir kinders in en selfs ‘n animasiereeks gebaseer op Ester se unieke illustrasies. Sy bede is dat die Here hierdie materiaal sal gebruik om ‘n nuwe generasie in sy Woord te anker sodat hulle ook kan getuig soos Hebreërs 6:19 sê: … en ons het dit as ‘n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel

Nuut op die rakke

Sondagviering

Die bepalings van die Ou Testamentiese sabbat is in Christus se verlossingswerk volbring. Sonder begrip hiervan kan ons een van twee foute begaan: óf ons word Sabbatariërs, óf ons verontagsaam die vierde gebod.

Hierdie boek beskou die vierde gebod (die sabbatsgebod) vanuit die hoek dat die Tien Gebooie steeds op die kerk van toepassing is, maar vestig die aandag op die middelaarskap van Christus.

Op Lig in Duisternis se aanlyn winkel en ook op Kindle beskikbaar: https://amzn.to/3QFPM7a

 

E-boeke

Het jy geweet dat ’n hele paar van Lig in Duisternis Uitgewers se boeke ook as e-boeke beskikbaar is?

Om hierdie boeke op Kindle te kry, doen die volgende:

  1. Installeer die Kindle-toep op jou rekenaar, selfoon of tablet
  2. Besoek Amazon se webblad en tik “Lig in Duisternis Uitgewers” (tussen aanhalingstekens) in die soekfunksie vir 'n lys van ons e-boeke.
  3. Of besoek ons webwerf en loer onder die afdeling “Kindle e-boeke” om joune aan te skaf.

Oorweeg só 'n geskenk

 

Jy kan ʼn Lig in Duisternis-geskenkbewys per e-pos vir iemand stuur! Koop jou geskenkbewys hier en bederf iemand op ʼn spesiale manier.