![]() |
||||
|
||||
|
Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik (Mt. 5:14-16). Ken jy iemand wat stukkend is? Iemand wat deur ‘n traumatiese gebeurtenis moes leef? Of iemand wat vir jare al spyt en woede en hartseer met hulle saamdra? Hoe kan ek en jy in ‘n stukkende wêreld vol stukkende mense ligdraers wees? Hoe kan ons ‘n verskil maak? Elkeen wat met hartseer, woede en haat saamleef, het 'n dowwe kolletjie wat net blinkgevryf moet word. Ek en jy kan 'n verskil maak. Ons moet daardie plekkie soek en dit begin poets. Met lappies van hoop; lappies van liefde, begrip, geduld, deernis en empatie wat uit die liefde en barmhartigheid van Christus voortvloei. Op hierdie manier word ons die lig wat die duisternis verdryf; versprei ons die lig van hoop en liefde vir diegene wat dit so vreeslik nodig het. Dit is ons roeping. Gebruik hierdie maand om die lig wat die wêreld so broodnodig het, te wees. |
||||
![]() |
||||
|
||||
Ds. Schalk Strauss, publikasiehoof by Lig in Duisternis Uitgewers en redakteur van die AP Kerk se kerkblad, Die Boodskapper, het Sondag 21 April weer ʼn bietjie by Sarina Bosman van Pretoria FM gekuier. Ds. Strauss en Sarina het gesels oor die nuutste uitgawe van Die Boodskapper.
Luister hier na die onderhoud. Luister gerus ook na die klankopnames van Die Boodskapper op Spotify. |
||||
|
||||
Dinky Dots, Garsfontein (25 April)
AP Kerk Wonderboom (27 April)
|
||||
|
||||
|
||||
|
||||
|
Die Buiter-reeks Die laaste drie boeke in Die Buiter-reeks is pas deur Lig in Duisternis Uitgewers vrygestel. Hierdie reeks laat die leser deel in die boeiende avonture van die Buiter, ’n man wat ’n merkwaardige dubbele lewe lei. Hy word as ʼn skatryk edelman van die Kaap gereken; oënskynlik ledig en verveeld, of is hy?
Die sewende Die Buiter-boek, Boodskap vir die Buiter, is weereens ’n verhaal propvol spanning en opwinding. In hierdie boek gaan dit oor Hendrik Bierman, ’n regeringsamptenaar, wat in die geheim ook skeepsplunderaar is. Hy is kop in een mus met Sarel van der Hooft, ’n edelman en ’n skurk. Dan is daar Betta Fourie, eienares van die rustige pragplaas Môrester en haar broertjie, Dawie. Natuurlik is daar ook nog die Buiter, die gevreesde ridder van die nag en sy swart perd, Rower. Hulle is die hoofkarakters in ’n reeks gebeurtenisse wat begin by ’n skip wat moet strand en eindig in ’n muwwerige tonnel onder ’n ou slawehuis. In die agtste Die Buiter-boek, Die Buiter hou wag, word Graaf Dunfolk, een van die magtigste manne in Engeland, spesiaal na die Kaap gestuur om sake te kom ondersoek. Gou kom hy agter dat die verset van die burgers nooit gedemp sal word solank die Buiter, met sy waaghalsige dade, daar is om hulle te besiel en hul griewe aan te spreek nie. Mettertyd besef hy ook deeglik dat die Buiter nog nooit handdoek ingegooi het nie. Wanneer hy mense wil red, voeg hy die daad by die gedagte. Hy het dit dus sy uitsluitlike doel gemaak om hierdie situasie te verander. Die Buiter moet vir eens en vir altyd onskadelik gestel word. Daarvoor bedink hy toe ’n sluwe plan. In die negende en laaste Die Buiter-boek, Die Buiter seëvier, vertoef ’n invloedryke Franse edelman aan die Kaap die Goeie Hoop as gas van die goewerneur. Dit is algemeen bekend dat die baron die eienaar van een van die grootste handelsvlote op die roete om die Kaap na die Ooste is. Maar wat nie bekend is nie en wat niemand selfs vermoed nie, is dat hy besig is met ’n komplot wat die lewens van honderde niksvermoedende mense bedreig. Toe ’n onskuldige jong burger kort daarna onverwags in hegtenis geneem word, verskyn die Buiter op die toneel. En toe ’n tweede burger vermoor word en ’n derde spoorloos verdwyn, begin die poppe behoorlik dans, want die gemaskerde man op die swart hings stuit vir niks en niemand en sy swaard is ’n ware verskrikking waarmee hy amok onder sy vyande maak … |
||||
|
||||
|
Het jy geweet dat ’n hele paar van Lig in Duisternis Uitgewers se boeke ook as e-boeke beskikbaar is?
Om hierdie boeke op Kindle te kry, doen die volgende:
|
||||
|
||||
|
||||
![]() |
||||
|