Plaas media@liginduisternis.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie, kyk na die aanlyn-weergawe.

Julie 2022

Hoe naby gaan jy aan die hemel kom?

Die afgelope skoolvakansie het ons die voorreg gehad om in die Oos-Kaap te gaan kuier. Ons het op Buffelshoek, ’n vakansieplaas net buite Cradock, tuisgegaan. Die plaas is aan die voet van die Swaershoekberge geleë met die bekende skrywer Olive Schreiner se graf as een van die toeristeaantreklikhede.

Op ’n baie winderige Saterdagmiddag het oom Mossie, die gawe plaasbestuurder, ons met sy Toyota-bakkie teen Buffelskop op gevat. Soos wat ons ry, vertel hy ons meer oor Olive Schreiner se lewe. Hy vertel van haar liefde vir die natuur, haar skryfwerk, maar ook van haar vrye leefstyl en haar erotiese eskapades met haar minnaar, Samuel Cronwright, wat saam met haar bo-op Buffelskop begrawe lê. Terwyl hy vir ons vertel met hoeveel moeite haar loodkis teen die berg uitgedra is, het sy laaste opmerking my getref: “Daar lê sy nou, 1 425 m bo seespieël bo-op Buffelskop begrawe, en dit is seker die naaste wat sy ooit aan die hemel sal kom.”

Die doel is nie om ’n oordeel oor ’n ander se lewe uit te spreek nie, maar die opmerking het my aan die dink gesit oor my eie lewe – hoe naby sal ek aan die hemel kom as my lewe beoordeel sou word? As iemand oor jóú lewe ’n oordeel moes vel, wat is die naaste wat jý aan die hemel sal kom? Of sal ons dalk ook die afstand tussen ons en die hemel op ’n kunsmatige manier probeer verklein deur onsself op die hoogste bergpiek te laat begrawe?

Miskien het ons ’n indrukwekkende geestelike prestasielys: Ons kom elke Sondag in die kerk, ons is by gemeenskapsprojekte betrokke, ons gee gereeld geld vir liefdadigheid, ons respekteer ander, ons is eerlik en ons het ons naaste ten minste die meeste van die tyd lief. As ons moet gaan op dit wat ons of die samelewing van ons dink, voel ons dalk naby aan die hemel. Meet ons dit egter aan God se standaarde, skiet ons ver tekort en moet ons saam met Jesaja in hoofstuk 64:6 erken dat ons geregtighede, ons goeie dade, voor God soos ’n besoedelde kleed is. Wie dus eerlik oor sy eie lewe is, moet erken dat nie een van ons op grond van óns werke veel nader as Olive Schreiner of enige iemand anders aan die hemel sal kan kom nie.

Genadiglik oordeel God ons nie volgens óns werke nie. Efésiërs 2:8-9 sê: Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Net die werke van Jesus Christus is volmaak en in staat om God tevrede te stel. Deur in Hom te glo, word sý werke óns werke, sodat ons Christus “ons geregtigheid” kan noem. As ons werke moes tel, sou nie een van ons veel nader as 1 425 m bo seespieël aan die hemel gekom het nie. Met Christus se werke kom ons egter nie net naby aan die hemel nie, ons kom inderdaad ín die hemel.

DIT HET GEBEUR

Verootmoedigingsondag, in sak en as voor die lewende God

Op 24 Julie is gemeentes landwyd aangemoedig om aan Verootmoedigingsondag deel te neem en dieselfde preek, Sondaars in die hand van ʼn toornige God, te preek. As deel van die veldtog was daar ook ʼn aanlyn boekbespreking waar professor Adriaan Neele (onder andere professor in historiese teologie aan die Puritan Reformed Theological Seminary, asook digitale redakteur van die Jonathan Edwards-sentrum by Yale Universiteit) en professor Dolf Britz (verbonde aan verskeie universiteite wêreldwyd, direkteur aan die Jonathan Edwards-sentrum Afrika asook internasionale navorser) vrae beantwoord het soos deur ds. Schalk Strauss aan hulle gestel. Die boekbespreking is op Lig en Duisternis Uitgewers se YouTube-kanaal beskikbaar.

Luister gerus ook hier na die erediens op Verootmoedigingsondag soos gelei deur ds. Schalk Strauss.

NUWE PUBLIKASIES

Die regering van Christus in sy kerk

Die bekendstelling van Die regering van Christus in sy kerk het op 21 Julie by die Kairos Netwerk Familiebyeenkoms plaasgevind.

Hierdie boek het nou die lig gesien nadat professor WD Jonker se onvoltooide manuskrip in die kelderkamer van sy woonstel gevind is. Die manuskrip is deur dr. GJ Duursema geredigeer en uitgebrei sodat dit uiteindelik as volwaardige boek gepubliseer kon word.

ʼn Volledige beskrywing van die ontwikkeling van die gereformeerde kerkreg – vanaf die voorlopers van Calvyn tot ongeveer 1965 – word in hierdie boek bespreek.

Besoek gerus Lig in Duisternis se webwerf om jou kopie van Die regering van Christus in sy kerk te koop. Die e-boek is ook op Amazon beskikbaar.

 

Die Buiter

Die Buiter-reeks beskryf die opwindende avonture van ’n man wat ’n merkwaardige dubbele lewe gelei het; die Buiter.

Hy word gereken as die rykste edelman van die Kaap; die oënskynlik ledige en verveelde Graaf De Moreaux.

Skaf gerus jou kopie van die eerste boek in hierdie reeks hier aan.

 

 

Oorweeg só ʼn geskenk

Het jy geweet jy kan ʼn Lig in Duisternis-geskenkbewys vir iemand per e-pos stuur?

Koop jou geskenkbewys hier en bederf iemand op ʼn spesiale manier.

SPESIALE AANBIEDINGE

Winskopies vir Augustus

UITSTALLINGS GEDURENDE AUGUSTUS

Lig in Duisternis Uitgewers sal gedurende Augustus by die volgende plekke te sien wees:

Kragdag: 11-13 Augustus (Diamantvallei Landgoed)
AP Kerk Pretoria-Oos: 27 Augustus
Sinode: 29 Augustus tot 2 September (Voortrekkermonument)

Kom maak gerus ʼn draai as ons dalk in jou omgewing is!