Plaas media@liginduisternis.co.za in jou adresboek om te verseker dat jy hierdie e-pos ontvang. Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie, kyk na die aanlyn weergawe.

06 - 2026

Die groter prentjie
Ons sien gewoonlik net die stukkie pad waarop ons self staan. Vandag se planne, hierdie week se take, die volgende doelwit. Maar God se plan is altyd groter as óns oomblik.

Josef se lewe wys dit vir ons. Hy het deur baie omdraaipaaie gegaan voordat hy die groter prentjie kon sien, en later kon hy sê: Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is … (Gén. 50:20). Hy het dit nie voor die tyd verstaan nie, maar agterna kon hy die hand van God duidelik sien.

Romeine 8:28 herinner ons dat alle dinge ten goede meewerk vir die wat God liefhet. Dit beteken nie elke dag gaan maklik wees nie, maar dit beteken ons stap nie sonder rigting nie.

Ons belydenis van God se voorsienigheid leer ons juis dit: God regeer en bestier alles volgens sy raad, ook die klein, alledaagse dinge waaroor ons nie eens dink nie.

Dawid skryf in Psalm 139:6 dat God se gedagtes vir hom te wonderbaar en te hoog is om te begryp. Dit is nie ’n gedagte wat van moedeloosheid spreek nie, maar een van bemoediging en troos. Ons hoef nie die hele plan te verstaan om daarop te vertrou nie.

Mag ons met nuwe oë kyk na ons gewone dae, wetende dat dit deel is van iets veel groter.

Algemeen

Drie vroeë stemme van die Hervorming

Julie is ’n maand waarin drie name uit die geskiedenis van die Hervorming na vore tree, elkeen met ’n eie verhaal en ’n eie bydrae. Johannes Hus, Johannes Calvyn en Zacharias Ursinus het nie in dieselfde tyd of plek geleef nie, maar hul paaie loop almal uit op dieselfde oortuiging: Die Skrif alleen is die hoogste gesag vir die kerk van Jesus Christus.

Op 6 Julie 1415 is Johannes Hus op die brandstapel verbrand. Hy was ’n Skrifgetroue prediker in Bohemië wat lank voor Luther al gepreek het dat die Bybel, en nie kerklike tradisie of die pous nie, die hoogste gesag in die kerk is. Hy het ook gewys op misbruike in die kerk van sy tyd en gevra dat predikers en gewone mense weer na die Skrif self luister. Vir hierdie oortuigings is hy voor ’n kerklike raad gedaag en is van hom verwag om sy woorde te herroep. Hy het dit geweier, al het dit sy lewe gekos. Sy moed het ’n vroeë vonk geword vir die Protestantse Kerkhervorming wat eers ’n eeu later sou ontbrand. Hy het sy lewe gegee omdat hy nie sy oortuiging oor die Skrif wou verloën nie, en sy voorbeeld het later ander Kerkhervormers aangemoedig om dieselfde pad te loop.

Op 10 Julie 1509 is Johannes Calvyn in Frankryk gebore. Hy het as jong man regte en teologie studeer voordat hy hom volkome aan die uitlegging van die Skrif gewy het. In Genève het hy nie net gepreek nie, maar ook stelselmatig deur die Bybelboeke gewerk en duidelike, Skrifgetroue verklarings nagelaat wat vandag nog gebruik word. Sy werk het gewys hoe die hele lewe, nie net die kerk nie, onder die heerskappy van God staan. Hy het ook omgee vir die armes, onderwys en die regering van die kerk ernstig opgeneem, en sy invloed het oor die hele Europa versprei. Sy nalatenskap lê vandag nog in die manier waarop ons preek, bid, ons kerk regeer en die Bybel uitlê. Koop nou sy kommentare op Galasiërs, Efesiërs, Kolossense en Filippense.

Op 18 Julie 1534 is Zacharias Ursinus gebore. Hy het in Duitsland studeer en later in die dorp Heidelberg doseer, waar hy saam met Caspar Olevianus gewerk het aan die opstel van ’n Christelike leerboek vir die jeug. Die gevolg was die Heidelbergse Kategismus, een van die Drie Formuliere van Eenheid, wat tot vandag in ons kerke gebruik word om kinders en volwassenes die geloof op ’n eenvoudige manier te leer. Die kategismus begin met die bekende vraag oor ons enigste troos in lewe en in sterwe, en daardeur het Ursinus iets nagelaat wat geslagte lank harte en verstande vorm. Sy vrae en antwoorde help ons nog steeds om eenvoudig en duidelik te verstaan wat ons glo, en waarom ons dit glo. Loer gerus deur die publikasies wat ons beskikbaar het ten opsigte van die Heidelbergse Kategismus.

Hierdie drie mans het in verskillende tye en plekke geleef, en elkeen het ’n ander rol gespeel. Hus het sy lewe verloor omdat hy nie die gesag van die Skrif wou ontken nie. Calvyn het ’n hele nuwe manier van dink oor en verstaan van die Skrif help vestig. Ursinus het dit alles vertaal in eenvoudige woorde wat selfs ’n kind kan verstaan. Tog was hulle almal deel van dieselfde stryd, naamlik om die kerk terug te bring na die Skrif alleen. Hulle herinner ons daaraan dat ons geloof nie iets nuuts is nie. Dit is gebou op die werk van mense wat alles gewaag het sodat ons vandag die Woord van God kan ken, bely en met oortuiging aan ons kinders kan oordra.


Jaco hardloop 200 km deur die Richtersveld

Een van die Lig in Duisternis Uitgewers-spanlede, Jaco Duvenhage, het vanaf 14 tot 20 Junie aan die Namibia Crossing deelneem. Dit behels ’n vyf dae lange resies van 200 km wat vanaf Suid-Afrika na Namibië, deur die Richtersveld Oorgrens Nasionale Park, plaasvind. Hy het 21ste uit die groep van 26 geëindig.


Redakteursforum

Ds. Schalk Strauss, Publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers en Redakteur van die AP Kerkverband se kerkblad, Die Boodskapper, gesels met Liezil van der Schyff van Pretoria FM op Redakteursforum oor die jongste uitgawe van Die Boodskapper.

Luister hier.

Luister hier ▶


Die Boodskapper

Lees hier om te sien wat die toepassing jou alles bied.

Laai gerus die toepassing by Google Play Store of Apple App store af.

Winskopies

Julie bied warm winskopies wat in elkeen se smaak val.

Dagboek

6 Julie: Johannes Hus, Skrifgetroue prediker en voorloper van die Kerkhervorming, sterf op die brandstapel (1369-1415)
10 Julie: Johannes Calvyn, Franse Kerkhervormer en Skrifverklaarder is op hierdie dag in 1509 gebore.
18 Julie: Zacharias Ursinus, medeskrywer van die Heidelbergse Kategismus is op hierdie dag in 1534 gebore.

Skrywer van die maand

Adriaan Swanepoel het op Springs skoolgegaan en woon sedert sy skooljare in Pretoria. As bibliotekaris het hy artikels in verskeie vaktydskrifte gepubliseer. Ná sy aftrede in 2011 wou hy ten minste een kortverhaal skryf. Hy debuteer in 2012 met “Hendrika”in die vrouetydskrif Rooi Rose, en het sedertdien ook ’n reeks reisbeskrywings in die Vlaamse tydskrif Saamtrek gepubliseer. Sy skryfwerk het ook al in die jaarboek van die Africana Vereniging verskyn.

Koop sy kinderboek, Die katte van Kathu sit hul dorp oppi mêp hier.

Uittreksel van die maand

Het jy al ooit ’n geheim gehad wat jy vreeslik graag met iemand wou deel? Ek praat nou nie van ’n klein geheimpie soos dat jy roomys ná middagete gaan kry nie. Ek bedoel ’n groot, ongelooflike geheim wat jou lewe kan verander. Dit is só groot dat jy dit skaars vir jouself kan hou. Dis presies hoe die apostel Paulus gevoel het toe hy aan die Christene in Rome geskryf het. Weet jy waar Rome is? Dis reg, dis in Italië (die land wat soos ’n stewel lyk). Paulus het hierdie brief so rondom die jaar 57 n.C. geskryf terwyl hy op sy derde groot sendingreis was, en dit is wat hy gesê het: Vandaar die verlange van my kant om ook aan julle wat in Rome is, die evangelie te verkondig. Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek (Rom. 1:15-16).

Paulus se geheim is beter as wat enige roomys ná middagete ooit kan wees. Dis die goeie nuus van die evangelie! So, wat is die evangelie en hoekom is dit sulke goeie nuus? Dis goeie vrae! Laat ek dit verduidelik deur nog ’n vraag te vra: Geniet jy dit om op ’n helder nag buite na die sterre te kyk? Dink jy hulle sou so helder skitter as die hemelruim heldergroen of heldergeel was? Natuurlik nie! Dis juis die pikswart hemelruim wat die sterre soveel mooier maak. Dis die idee agter Paulus se woorde in Romeine 1:18: Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk...

Koop Paulus se groot brief hier.

Borg ’n Boek by Lig in Duisternis Uitgewers

Lig in Duisternis Uitgewers bied besighede, organisasies, maatskappye en individue ’n unieke geleentheid om deel te wees van iets blywends. Wanneer u ’n boek borg, word die boodskap van hand tot hand en van geslag tot geslag gedra.

As borgvennoot ontvang u erkenning in die gepubliseerde boek, blootstelling op ons webtuiste, ruimte in ons nuusbrief, erkenning tydens die boekbekendstelling en ’n toegewyde plasing op ons sosialemediakanale. Dit is ’n vennootskap wat geloofwaardigheid bou, want die gemeenskap sien wie ons hande sterk en onthou dit.

Sommige beleggings lewer wins. Hierdie belegging lewer betekenis en vorm die toekoms.

Besoek ons webblad indien u belangstel of stuur ’n boodskap aan hoof@liginduisernis.co.za.

Handelaarsregistrasie

Verdien ʼn ekstra geldjie met Lig in Duisternis Uitgewers se handelaarsregistrasie.

Registreer as ʼn handelaar op ons webwerf en kry 15%-30% afslag op ons publikasies. Jy kan die publikasies teen die winkelprys verkoop en die handelaarsafslag as wins in jou sak steek.

Moenie hierdie geleentheid laat verbygaan nie. Klik hier.

Lees … enige plek, enige tyd!

Ons het ʼn verskeidenheid publikasies wat as e-boeke op Amazon beskikbaar is.

Laai gerus die Kindle-toep op jou selfoon, rekenaar of tablet af om ons verskeidenheid e-boeke te lees.

Klik hier om jou e-boekversameling aan te vul.

Taalwenk van die Maand

In Afrikaans word sekere woorde en uitdrukkings altyd as twee afsonderlike woorde geskryf. Hier is vier wat soms twyfel wek:

"Nog steeds" is 'n bywoord van tyd en word altyd los geskryf.

"Op pad" dui op beweging of rigting en bly altyd twee woorde, ongeag die konteks.

"Huis toe", soos "skool toe", "werk toe" en "stad toe", volg die reël dat rigtinggewende uitdrukkings met "toe" los geskryf word.

"Al twee" word apart geskryf wanneer "al" as versterking voor 'n telwoord gebruik word. Dieselfde geld vir "al drie", "al vier", ensovoorts.

'n Handige riglyn: As jy 'n ander woord tussen die twee dele kan plaas sonder om die betekenis te verander, is dit 'n teken dat hulle apart hoort.

Skryf ʼn resensie

Ons waardeer elke stem en elke stukkie terugvoer wat ons van ons lesers ontvang. Ons moedig jou graag aan om jou ervaring met ons te deel. Terugvoer dien as inspirasie en bemoediging vir ons hele span. Ons wil graag van jou hoor. Laat gerus vir ons ʼn resensie op ons webblad.

Jy kan ʼn Lig in Duisternis-geskenkbewys per e-pos vir iemand stuur! Koop jou geskenkbewys hier en bederf iemand op ʼn spesiale manier.