Winter – die goed en die sleg
Die eerste gedagte wat by die meeste Suid-Afrikaners opkom as jy die woord “Julie” hoor, is koue! As jy in die Oos-Vrystaat bly, dink jy aan gebarste geisers en die Kapenaars dink aan reën. Wanneer jy dalk hierdie tyd van die jaar in KwaZulu-Natal ʼn draai maak, sien jy dadelik wie die ouens van Gauteng, Noordwes en Limpopo is – dis die mense met kortbroeke en hemde met kort of geen moue!
Wanneer die winter aan jou lyf raak, kan pyne skielik baie erger raak en met al die lekker sop, warm drankies en minder oefening is ʼn ekstra kilo of drie amper onvermydelik.
Almal kla egter nie oor die winter nie. Inteendeel, sommiges floreer hierdie tyd van die jaar! Verkope van gas, verwarmers, warm klere, wintersbeddegoed en vitamiene is maar ʼn paar voorbeelde. Woolworths kan nie voorbly om sop uit te pak nie en Old Brand Sherry se verkope skiet die hoogtes in!
Winter, ryp en koue is goed én sleg. Wanneer ons dit deurtrek na ons geestelike lewe is daar ook winters én somers. Tye van groei en hoop, en dan ook tye van moedeloosheid.
Ons kry egter die volgende gerusstelling in Josua 1:5-6: “...Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie. Wees sterk en vol moed...”
Beleef jy tans winter in jou hart? Hou moed en hou vas aan God se beloftes!
En diegene onder ons wie se harte tans somer beleef? Laat ons doen wat 1 Thessalonicense 5:11 sê: “Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op...”
Mag jou winter tydelik wees en mag jy weer vir iemand anders somer bring.
|