Die afgelope skoolvakansie het ons die voorreg gehad om in die Oos-Kaap te gaan kuier. Ons het op Buffelshoek, ’n vakansieplaas net buite Cradock, tuisgegaan. Die plaas is aan die voet van die Swaershoekberge geleë met die bekende skrywer Olive Schreiner se graf as een van die toeristeaantreklikhede.
Op ’n baie winderige Saterdagmiddag het oom Mossie, die gawe plaasbestuurder, ons met sy Toyota-bakkie teen Buffelskop op gevat. Soos wat ons ry, vertel hy ons meer oor Olive Schreiner se lewe. Hy vertel van haar liefde vir die natuur, haar skryfwerk, maar ook van haar vrye leefstyl en haar erotiese eskapades met haar minnaar, Samuel Cronwright, wat saam met haar bo-op Buffelskop begrawe lê. Terwyl hy vir ons vertel met hoeveel moeite haar loodkis teen die berg uitgedra is, het sy laaste opmerking my getref: “Daar lê sy nou, 1 425 m bo seespieël bo-op Buffelskop begrawe, en dit is seker die naaste wat sy ooit aan die hemel sal kom.”
Die doel is nie om ’n oordeel oor ’n ander se lewe uit te spreek nie, maar die opmerking het my aan die dink gesit oor my eie lewe – hoe naby sal ek aan die hemel kom as my lewe beoordeel sou word? As iemand oor jóú lewe ’n oordeel moes vel, wat is die naaste wat jý aan die hemel sal kom? Of sal ons dalk ook die afstand tussen ons en die hemel op ’n kunsmatige manier probeer verklein deur onsself op die hoogste bergpiek te laat begrawe?
Miskien het ons ’n indrukwekkende geestelike prestasielys: Ons kom elke Sondag in die kerk, ons is by gemeenskapsprojekte betrokke, ons gee gereeld geld vir liefdadigheid, ons respekteer ander, ons is eerlik en ons het ons naaste ten minste die meeste van die tyd lief. As ons moet gaan op dit wat ons of die samelewing van ons dink, voel ons dalk naby aan die hemel. Meet ons dit egter aan God se standaarde, skiet ons ver tekort en moet ons saam met Jesaja in hoofstuk 64:6 erken dat ons geregtighede, ons goeie dade, voor God soos ’n besoedelde kleed is. Wie dus eerlik oor sy eie lewe is, moet erken dat nie een van ons op grond van óns werke veel nader as Olive Schreiner of enige iemand anders aan die hemel sal kan kom nie.
Genadiglik oordeel God ons nie volgens óns werke nie. Efésiërs 2:8-9 sê: Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Net die werke van Jesus Christus is volmaak en in staat om God tevrede te stel. Deur in Hom te glo, word sý werke óns werke, sodat ons Christus “ons geregtigheid” kan noem. As ons werke moes tel, sou nie een van ons veel nader as 1 425 m bo seespieël aan die hemel gekom het nie. Met Christus se werke kom ons egter nie net naby aan die hemel nie, ons kom inderdaad ín die hemel.
Foto: Kaushik Panchal | Unsplash
