Gedurende Maart het ons Wêreldpoësiedag herdenk. NP van Wyk Louw het gebed as “een van die skoonste vorms van poësie” beskryf. Dalk is dit omdat gebed so ’n eerlike vorm van poësie is. Dit is die genre waarin gelowiges onbevange die diepste emosies, vrese, vreugdes en vrae van die hart in die intieme omgewing en op die heilige grond van ’n persoonlike gesprek met die Almagtige kan uiter. Deur die Heilige Gees wat ons gebede na die Vader neem, verander stotterende woorde in meesterstukke.
Gebed is nie verniet al beskryf as “die asemhaling van die siel” nie. Net soos wat daar nie sprake van enige persoonlike verhouding kan wees sonder goeie en gereelde kommunikasie nie, net so kan daar nie sprake wees van ’n verhouding met God sonder goeie en gereelde kommunikasie nie.
In die publikasie Bid Jy? wat deur Lig in Duisternis Uitgewers uitgegee word, spreek JC Ryle ’n tydlose versugting uit: “Ek wil graag hê dat die tyd waarin ons lewe, ’n biddende tyd sal wees. Ek begeer dat die Christene van ons tyd, biddende Christene sal wees. My hartsbegeerte en gebed met die uitstuur van hierdie publikasie is om ’n biddende gesindheid onder ons mense te bevorder. Ek wil sien dat dié wat nooit gebid het nie, opstaan en tot die Here roep; en ek wil sien dat dié wat wel bid, nie verkeerd bid nie.”
Hoe lyk ons gebedslewe? Hoe klink ons hartspoësie? Mag ons elke dag genoeg rede hê om te bid sonder ophou, soos Paulus ons aanmoedig (1 Thes. 5:17).
