Deel jou geloof, hoop en vreugde in Christus, eerder as jou bekommernisse, met dié rondom jou.
In ons daaglikse lewe het dit so maklik geword om oor ons bekommernisse te praat; dit sluip as’t ware onbewustelik by ons gesprekke in. Veral hierdie tyd van die jaar, wanneer ons moeg is en dan maklik moedeloos raak. Ons vergeet egter dat ons geloof ons iets veel dieper en kragtiger bied —’n bron van krag en hoop en vreugde wat ons wêreld kan verlig.
Die Psalmdigter herinner ons daaraan in Psalm 71:15-16: My mond sal u geregtigheid vertel, die hele dag u heil; want ek ken nie die maat daarvan nie. Ek sal kom met die magtige dade van die Here Here; ek sal u geregtigheid vermeld, dié van U alleen.
Ons het die wonderlike voorreg om vrylik, sonder vervolging, van God se liefde en teenwoordigheid in ons lewens te getuig, en tog doen ons dit heeltemal te min.
Laat ons in die maand wat voorlê die krag, hoop en vreugde wat geloof in God vir gelowiges inhou, met elkeen wat oor ons pad kom, deel.
