Op Maandag 24 April, het ek die voorreg gehad om namens Lig in Duisternis Uitgewers die sooispitgeleentheid van Club 21 se beplande Boekebos-leessentrum in Centurion by te woon. Met hierdie projek word ’n droom bewaarheid om vir kinders met downsindroom ’n biblioteek op die been te bring waar hulle kan ontsnap in die wonderwêreld wat boeke bied.
Dit was ’n wonderlike voorreg om van Lig en Duisternis Uitgewers af ook ’n bydrae tot hierdie projek te kon lewer. Wat my opnuut getref het, is hoe groot die wêreld se behoefte is aan die barmhartigheid van die groot Barmhartige. Ons leef in ’n wêreld wat in die wurggreep van die duisternis vasgevang is. Dit word elke dag oor en oor bevestig. Die hartseer werklikheid is dat selfs afwykings soos downsindroom, ’n afskuwelike gevolg van die sondeval is.
Die vorm waarin hierdie duisternis ons omvou, verskil van mens tot mens. Kinders met downsindroom se duisternis lyk anders as dié van normale kinders. Hulle duisternis is soms baie meer intens as ons s’n. Daarom is dit vir ons heerlik om deur ons betrokkenheid by hierdie projek, ’n klein stukkie lig in hulle duisternis te bring. Mag ander se duisternis jou ook aangryp en aanspoor om vir hulle lig te bring – in besonder dié Lig.
