Getuies van die Lig

In Johannes 1 beskryf die apostel die koms van Jesus Christus. Hy getuig van Hom: In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense (Joh. 1:4). In dieselfde hoofstuk praat hy ook oor Johannes die Doper wat as wegbereider vir die Messias gekom het. Hy word soos volg beskryf: Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig (Joh. 1:8).

Wanneer ons gereedmaak om die feestyd in te gaan, is dit belangrik om hierdie onderskeid in gedagte te hou. Kersfees is gewoonlik ’n tyd waar baie mense hul huise met Kersliggies versier. Party se huise is so mooi versier, dat dit skares besoekers lok. Daar is egter geen versiering wat opweeg teen Christus wat as Lig van die wêreld gekom het nie. Só geweldig is sy glans dat Johannes oor Hom getuig: En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie (Joh. 1:5).

Elkeen wat deur die Gees met dieselfde heerlikheid as Hy verlig word, se taak is om, soos Johannes, ’n getuie van die Lig te wees. Ons is nie die Lig nie, maar ons lewens behoort soos ’n stad op ’n berg en soos ’n lamp op ’n lampstaander te wees. Waar Kersliggies ná Kersfees verwyder en weggepak word, behoort hierdie Lig die hele jaar uit ons lewens te straal.  Dit gee meer vreugde en ontlok groter verwondering as wat die mooiste Kersliggies kan!

Foto Aaron BurdenUnsplash