(Fotokrediet: Canva)

Hoe kan ons in ‘n stukkende wêreld ligdraers wees?

Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik (Mt. 5:14-‬16).‬

Ken jy iemand wat stukkend is? Iemand wat deur ‘n traumatiese gebeurtenis moes leef? Of iemand wat vir jare al spyt en woede en hartseer met hulle saamdra?

Hoe kan ek en jy in ‘n stukkende wêreld vol stukkende mense ligdraers wees? Hoe kan ons ‘n verskil maak? Elkeen wat met hartseer, woede en haat saamleef, het ‘n dowwe kolletjie wat net blinkgevryf moet word. Ek en jy kan ‘n verskil maak. Ons moet daardie plekkie soek en dit begin poets. Met lappies van hoop; lappies van liefde, begrip, geduld, deernis en empatie wat uit die liefde en barmhartigheid van Christus voortvloei.

Op hierdie manier word ons die lig wat die duisternis verdryf; versprei ons die lig van hoop en liefde vir diegene wat dit so vreeslik nodig het. Dit is ons roeping. Gebruik hierdie maand om die lig wat die wêreld so broodnodig het, te wees.