My hart loop oor van dankbaarheid na afloop van Lig in Duisternis Uitgewers se aksie: Verootmoedigingsondag – ‘n veldtog wat ons hierdie maand met groot sukses kon volvoer!
Kerke van regoor Suid-Afrika het op 23 Julie deelgeneem aan Verootmoedigingsondag deur die preek “Waar is jou sondes?” van JC Ryle, vertaal deur ds. Henning Dafel, te preek. Ten spyte van die feit dat ek vooraf die preek deurgelees en telkemale teruggegegaan het om weer daarna te kyk as deel van die beplanning, was dit steeds vir my baie spesiaal om op Verootmoedigingsondag in die kerk na die preek te kon luister. Ek is weer opnuut herinner aan die belangrikheid van bekering en die toewyding wat God van ons verwag.
Lig in Duisternis Uitgewers is bevoorreg om ‘n rol te kon speel in die eensgesindheid onder gelowiges rakende die verspreiding van hierdie lewensnoodsaaklike boodskap.
Mag ons elke dag herinner word aan die krag van verootmoediging, bekering en die noodsaaklikheid om ons harte opnuut aan Christus toe te wy. Laat ons saam hierdie boodskap lééf, nie net op Verootmoedigingsondag nie, maar elke dag en op elke terrein van ons lewens.
Foto: Aaron Burden | Unsplash
