Twee weke voor sy dood op 14 Julie 1904, skryf die eertydse president van die ZAR, Paul Kruger, sy laaste boodskap aan sy volk vanuit sy woning in Clarens, Switserland. Hy rig sy volksgenote, wat platgeslaan was ná die Anglo-Boereoorlog, se oë op die toekoms en skryf onder meer:
“Want wie vir hom ’n toekoms wil skep, mag nie die verlede uit die oog verloor nie. Daarom: Soek in die verlede al die goeie en skone wat daarin ontdek kan word, vorm daarna u ideaal en probeer om daardie ideaal in die toekoms te verwesenlik …”
Op 10 Oktober (pres. Kruger se verjaarsdag) herdenk ons Heldedag. Dit bied ’n ideale geleentheid om terug te kyk, uit die verlede “die goeie en die skone” te neem en dan met daadkrag die toekoms tegemoet te stap. Daarom fokus Lig in Duisternis Uitgewers nie net op Christelike publikasies nie, maar ook op leesstof waarin die Afrikaner se geskiedenis binne die groter konteks van die Suid-Afrikaanse geskiedenis opgeteken is. Christene is immers nie identiteitloos nie. Wie egter nie ingelig oor sy verlede is nie, wie toelaat dat sy geskiedenis afgebreek en verdraai word, se identiteit gaan sonder vrees vir teenspraak daaronder ly. Laat ons dus nie ons herkoms en geskiedenis ignoreer nie. Ons hoef nie oneerlik daaroor te wees of dit oordrewe te romantiseer nie, maar ons mag en móét “die goeie en die skone” daaruit neem.
Hebreërs 13:7 beskryf wat “die goeie en die skone” dinge is waarna ons moet soek: Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.
