In sy lied, “Nuwe Wyn”, sing die gospelsanger Louis Britz oor die kragtige werking van die Heilige Gees. Hy spreek sy verlange uit dat God deur sy Gees kragtig in hom sal werk en sy lewe sal vernuwe. In een van die versreëls vergelyk hy God se vernuwende werk deur die Heilige Gees met nuwe wyn en hy noem dit “sielsjampanje”.
In Galásiërs 5:18 bring Paulus ook die werk van die Heilige Gees met wyn in verband. Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul. Dit is ’n kragtige vergelyking. Iemand wat onder die invloed van drank is, word heeltemal deur die alkohol in sy bloedstroom beheer: sy spraak, sy motoriese bewegings en selfs sy morele bewussyn. Paulus gee egter aan hierdie negatiewe beeld ’n positiewe betekenis wanneer hy die Gees as plaasvervanger vir drank beskou. Iemand wat waarlik onder die Heilige Gees se beheer is, se woorde, denke, optrede en morele bewussyn word deur die Gees oorgeneem. In so iemand se lewe is daar inderdaad nuwe wyn uitgestort – sielsjampanje!
Foto Tim Bogdanov : Unsplash
