Sola Sacra Scriptura

Ek en my vrou kyk nou die aand na ’n episode van ’n bekende Amerikaanse komediereeks. Een van die karakters word as ’n baie eng, konserwatiewe Christenvrou voorgestel. In die spesifieke episode word sy gekonfronteer deur ’n ander karakter – geleerd, hoogs professioneel en leier in haar veld – wat baie antagonisties teenoor haar en haar standpunte is. In ’n poging om die Christenvrou se siening oor die Bybel en haar lewensuitkyk te verkleineer, snou sy haar op een stadium meerderwaardig toe: “Aag, lees tog net vir ’n slag ’n ander boek [as die Bybel] ook.” Hoewel komies, was die reaksie van die Christelike karakter veelseggend: “As God ’n ander boek skryf, sal ek dit lees.”

Hierdie uitspraak sê iets oor die belangrikheid van die Bybel as God se onfeilbare Woord vir ons lewens. Dit bly ons maatstaf vir alles wat ons doen en bevat alles wat ons moet weet om gered te word. Dit is daarom Lig in Duisternis Uitgewers se begeerte om die onfeilbaarheid van God se Woord te handhaaf.

Ons wil graag hê dat lesers met vrymoedigheid produkte met ons handelsmerk daarop, sal koop omdat hulle weet dat die inhoud daarvan Skrifgetrou sal wees. Ons bely immers saam met die kerk sedert die Reformasie: Sola Sacra Scriptura (die Heilige Skrif alleen).

 

Foto: John-Mark Smith | Pexels