’n Nuwe seisoen het aangebreek

Oktobermaand is Jakarandamaand in Pretoria. Dis ’n maand wat ons herinner dat daar ’n nuwe seisoen aangebreek het. Oral steek die nuwe lewe pers-pers sy kop uit totdat dit soos ’n pers waas oor die stad hang.

Oktobermaand reik na wat voorlê, maar is ook verbind aan wat verby is. Dit is daarom betekenisvol dat dit ook die maand is waarin ons pres. Paul Kruger se verjaarsdag vier en onthou hoe hy ons aangemoedig het om die goeie uit die verlede te neem en daarop voort te bou. Terselfdertyd is Oktobermaand ook Hervormingsmaand wanneer ons die aanbreek van die Hervorming op 31 Oktober, toe Martin Luther sy 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het, herdenk.

Hier by Lig in Duisternis Uitgewers vier ons graag die lewe, maar nooit los van die verlede nie. Ons staan immers op die skouers van reuse. Uit hierdie verlede herbevestig ons graag weer die vyf reformatoriese pilare waarop ons boodskap gebou is: Die Woord alleen (Sola Scriptura), Christus alleen (Solus Christus), genade alleen (Sola Gratia), geloof alleen (Sola Fide) en aan God alleen die eer (Soli Deo Gloria).

 

Foto : KC Welch | Unsplash