Onder die invloed van die Gees

Pinkstertyd is ’n spesiale tyd in die kerk van Jesus Christus. Dit is die tyd waarin ons in die besonder nadink oor die werking van die Heilige Gees wat op Pinkstersondag uitgestort is. Niemand kan bely dat Jesus die Christus is, sonder die Heilige Gees nie (vgl. 1 Kor. 12:3). Dit is hierdie opregte belydenis wat die Gees se teenwoordigheid in ons lewens bevestig. Tog is daar ook meer, want die Gees se teenwoordigheid laat jou nie net die Naam van Christus bely nie, dit laat jou ook die beeld van God vertoon. Wanneer Hy beheer van ’n mens se lewe oorneem, is dit ’n volledige oorname.

In Efésiërs 5:18 verduidelik Paulus dit met ’n baie praktiese beeld: Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul. Ons verwys dikwels na ’n dronk mens as iemand wat “onder die invloed” is. Alkohol het die geneigdheid om elke aspek van ons menswees oor te neem en te beïnvloed: spraak, denke, inhibisies, motoriese bewegings en selfs ons sin vir wat reg en verkeerd is. Hierdie beeld word egter deur Paulus gebruik om die werking van die Heilige Gees in kinders van God se lewens mee te verduidelik. In plaas daarvan om van wyn dronk te word, word gelowiges aangemoedig om met die Gees vervul te word. Dit beteken dat ons onder sý invloed moet kom. Selfs meer as alkohol, behoort Hy elke aspek van ons menswees te beïnvloed en te beheer: spraak, denke, emosies, optrede en natuurlik ook ons sin vir wat reg en verkeerd is.

Mag ons in hierdie Pinkstertyd bid dat God ons meer en meer onder die invloed van sy Gees sal bring, sodat sy Beeld al duideliker in ons lewens sal wees.

Ds. Schalk Strauss