Valentynsdag
’n Aanslag deur die Gote en ’n plaag dun soldate uit
Die oorsprong van Valentynsdag kan teruggevoer word na die 3de eeu. Gedurende daardie tyd is die Romeinse Ryk deur die Gote (’n Germaanse/Duitse volk) binnegeval. Terselfdertyd het die Plaag van Cyprianus (249-262), waarskynlik pokke, uitgebreek en op sy hoogtepunt 5 000 mense per dag laat sterf.
Hierdie twee gebeure het daartoe gelei dat die Romeinse leër uitgeput geraak het. Die Romeinse keiser, Claudius II (268-270), het meer soldate nodig gehad om die Gote teen te staan. Hy het geglo dat mans beter veg as hulle nie getroud is nie, daarom het hy huwelike vir soldate verbied.
Vergoddeliking van keisers lei tot Christenvervolging
Rome is ook verskeur deur interne wedywering wat voortgeduur het sedert die sluipmoord op die vorige keiser, Gallienus (253-268). Keiser Claudius II het hierdie spanning onderdruk deur die Romeinse Senaat te versoek om keiser Gallienus te vergoddelik, om saam met die ander Romeinse gode aanbid te word.
Burgers is gedwing om die Romeinse gode te aanbid en keisers te “vergoddelik” deur ’n knippie wierook op ’n vuur voor hul standbeelde te plaas. Diegene wat die aanbidding van die Romeinse gode geweier het, is as “polities inkorrekte” of “onpatriotiese” vyande van die staat beskou en tereggestel.
Keiser Decius (249-251) se vervolging het Christene spesifiek geteiken met wetgewing wat hulle gedwing het om hul geloof te versaak of te sterf. Gedurende die eerste drie eeue van die Christendom was daar tien groot vervolgings waarin die regering Christene vir die leeus gegooi het, hulle lewendig gekook het, hulle tonge uitgesny en nog erger marteling bedryf het.
’n Christelike kerkdienaar weier om sy geloof te verloën
Toe keiser Claudius II eis dat Christene hul geloof verloën en heidense afgode aanbid, het Valentinus geweier. Hy is gearresteer en voor die prefek van Rome gesleep, wat hom tot die dood veroordeel het.
Alhoewel verskeie mense dieselfde naam gehad het, blyk dit dat Valentinus óf ‘n priester in Rome, óf ‘n biskop in Terni, Sentraal-Italië was. Hy het hom ook die keiser se toorn op die hals gehaal deur soldate in die geheim met hul jong bruide te laat trou.
Terwyl Valentinus op sy teregstelling gewag het, het sy tronkbewaarder, Asterius, hom gevra om vir sy blinde dogter te bid. Toe sy wonderbaarlik haar sig herwin, het die tronkbewaarder tot bekering gekom en is hy saam met baie ander gedoop.
Kort voor sy teregstelling het Valentinus ’n nota aan die tronkbewaarder se dogter geskryf en dit onderteken met: “Van jou Valentyn.” Hy is met stokke en klippe geslaan en toe dit hom nie kon dood nie, is hy op 14 Februarie 269 by die hek van die Via Flaminia onthoof.
In 496 het pous Gelasius 14 Februarie as “Valentynsdag” verklaar. Gedurende die vervolging van die Christene het Romeinse soldate by kerkvergaderings, katakombes en huise ingebreek en Christelike geskrifte en kerkrekords gekonfiskeer en vernietig. Omdat soveel rekords vernietig is, is besonderhede oor Valentinus se lewe skraps.
Valentynsdag verbind met hoflike liefde
Gedurende die laat Middeleeue (c.1393) het Geoffrey Chaucer, die vader van die Engelse letterkunde, ’n gedig genaamd “Parliament of Foules” geskryf. Daarin het hy beskryf hoe hoenders en voëls hul maats in die middel van Februarie kies: “Want dit was Sint Valentynsdag, wanneer elke voël van elke soort wat ’n mens kan voorstel na hierdie plek kom om sy maat te kies.” Hy het ‘n soortgelyke opmerking gemaak in die laaste hoofstuk van The Canterbury Tales.
Die assosiasie van voëls se paarwyse met getrouheid in huweliksliefde, het ontstaan omdat 90% van voëlspesies monogaam is. Ná Chaucer se gedigte, het meer verwysings in die literatuur verskyn wat Valentynsdag met hoflike liefde verbind. Dit het uiteindelik ontwikkel tot die 18de eeuse Engelse gebruik om blomme en lekkergoed aan te bied en Valentynsdag-groetekaartjies te stuur.
Ondertekening van Valentynskaartjies
Mense onderteken Valentynskaartjies dikwels met X’e en O’s. Die Griekse naam vir Christus is Χριστό, met die aanvangsletter “X” wat in Grieks “Chi” genoem word. “X” het ’n algemene afkorting vir die naam Christus geword. Dit is waarom Kersfees byvoorbeeld as “X-mas” afgekort word. In die Middeleeue is die “X” die Christuskruis, of “Criss-Cross” genoem. Dit het mense daaraan herinner dat “die vrees van die Here die begin van wysheid is”. Die Christuskruis was ’n vorm van ’n geskrewe eed.
Soortgelyk aan die ou praktyk om op ’n Bybel te sweer met die woorde “so help my God” en dan die Bybel te soen, sou mense ’n dokument teken met of langs die Christuskruis, om só voor God te sweer dat hulle die ooreenkoms sou nakom en dit dan soen om hul opregtheid te toon.
Ons het hierdie praktyk oorgeneem deur te vra om by die “X” te teken, of om te sê “ek sweer, kruis my hart”. Dit is die oorsprong van die ondertekening van ‘n Valentynskaartjie met ’n “X” – om ‘n belofte van getrouheid voor God uit te druk en ’n “O” – om die belofte te verseël met ‘n soen van opregtheid.
Valentinus se gewilligheid om ’n martelaar vir Christus te wees en sy heldhaftige, liefdevolle voorbeeld, inspireer gelowiges steeds om die Bybel te gehoorsaam:
Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat julle vervloek, doen goed aan die wat julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg, sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; (Mt. 5:44, 45); Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het (Joh. 13:35); Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee (Joh. 15:13).
