Salig is hulle wat treur

Die saligsprekinge kan beskryf word as die karaktereienskappe van die saliges. Dit is nie eienskappe wat net deur sommige gelowiges openbaar word nie, maar soos die vrug van die Gees behoort ál hierdie eienskappe by ál God se kinders teenwoordig te wees.

Om te treur, lees ons in Matthéüs 5:4, is een van hierdie eienskappe. Dit val vreemd op die oor dat die Here Jesus sê “salig” of “gelukkig” is hulle wat treur, want iemand wat treur is tog nie gelukkig nie. Dit gaan egter nie hier soseer oor mense wat hartseer is oor een of ander verlies nie, maar het te doen met hartseer oor die sonde. Dit is ’n eienskap van ’n gelowige dat sy eie sonde en die sonde wat hy rondom hom sien, hom treurig maak. Hy treur daaroor, want dit is juis sonde wat die mens se kanse op ewige geluk en vreugde in die wiele ry. Dit is sonde wat ons vir God laat wegkruip, soos Adam en Eva in die tuin van Eden, en ’n verhouding met God onmoontlik maak.

Vir hulle wat oor die sonde treur, is daar hoop. Christus sê dat hulle vertroos sal word. Hy het immers gekom om al die trane wat deur ons sondes en die gevalle werklikheid van die sondige wêreld rondom ons veroorsaak word, af te droog. Hy het betaal vir ons sonde sodat ons toegang tot die vreugde van ’n ewige lewe kan hê. Daarom is die wat waarlik oor hulle sonde treur ook die gelukkigste onder die gelukkiges.

’n Wêreld wat soek na geluk en blydskap het nodig om eers te leer om oor die regte dinge hartseer te wees. As ons oor die sonde hartseer is, sal ons bekers oorloop wanneer ons besef dat Christus juis vir daardie sonde versoening gedoen het. Daarin lê ware vreugde en word die evangelie met reg die “blye boodskap” genoem. Wie treur oor sy sonde, verbly hom uiteindelik in die Here (vgl. Filip. 4:4).