Met die begin van ‘n nuwe jaar roep die woorde “nuwe begin” ‘n gevoel van verwagting en hernuwing by my op. ‘n Spesifieke Bybelverhaal maal deur my gedagtes – die verhaal van Noag se ark.
In Génesis lees ons van God se belofte van herstel en ‘n nuwe begin ná die vernietigende vloed. Noag, gehoorsaam aan God se opdrag, bou ‘n ark en bring deur gehoorsaamheid en hoop, vernuwing vir die wêreld.
Net soos in Noag se verhaal, bied hierdie nuwe jaar vir ons die geleentheid om gehoorsaam aan God te wees. Kom ons onthou God se onvoorwaardelike beloftes en sien in geloof uit na die jaar wat voorlê.
Wanneer ons die bladsye van die kalender omslaan, laat ons nie net wonder wat in die volgende 12 maande in ons lewens gaan gebeur nie. Kom ons dink ook aan die hoopvolle beloftes in die Bybel wat ons aanmoedig om elke nuwe dag te lééf en ons vertroue in God te stel.
Kom, begin dié jaar met die vaste oortuiging dat God se genade en leiding ons op ‘n pad van vernuwing en hoop sal lei. Hierdie nuwe jaar is ‘n kans vir ‘n nuwe begin, ‘n reis van geloof en gehoorsaamheid.
