Stilword by Jesus se Voete: Om te Kies vir Wat Werklik Belangrik Is

In Lukas 10:38-42 lees ons die verhaal van twee susters, Maria en Martha, en Jesus se besoek by hulle aan huis. Martha het vreeslik rondgeskarrel om alles reg te kry vir Jesus se besoek, terwyl Maria gekies het om stil by Jesus se voete te sit en na Hom te luister en by Hom te leer.

In ons besige lewens is dit vandag so maklik om soos Martha vasgevang te raak in ons daaglikse take en verantwoordelikhede. Ons jaag van die een afspraak na die volgende, en dan verloor ons perspektief op wat regtig belangrik is, naamlik om stil te raak en tyd in sy teenwoordigheid te spandeer.

Ek wil jou vandag aanmoedig om vir ʼn oomblik stil te raak. Lees weer die verhaal van Maria en Martha, en vra jouself af: Is jy meer soos Martha of soos Maria? Maak jy tyd om by God stil te raak en sy vrede in jou lewe toe te laat, of raak jy verlore in die gejaag van die dag?

Dit is juis in daardie stil oomblikke, wanneer ons ons gedagtes en harte op die Here rig, dat ons versterk word vir alles wat voorlê.

Foto: Roberto Nickson | Unsplash