Die krag van gebed

Gebed is die vernaamste deel van die dankbaarheid wat God van ons vra. JC Ryle se boek, Bid jy? (Engels: A Call to Prayer), wat deur Lig in Duisternis Uitgewers vertaal is, is ʼn kragtige hulpmiddel om gelowiges te help om in hul gebedslewe te groei en ʼn dieper verhouding met God te hê.

In 1 Thessalonicense 5:17 wys Paulus ons daarop dat ons sonder ophou moet bid. Ons moet ʼn voortdurende bewussyn van sy teenwoordigheid hê en Hom by ons gedagtes, dade en besluite betrek. “Om te bid”, klink dikwels so maklik: Ons sluit net ons oë en praat met die Here. Maar tog worstel talle gelowiges met gebed. Wat hoort in ons gebede, en wat moet ons bid sodat ons ʼn diepgaande gesprek met die Here kan hê? Die Bybel wys vir ons dat gebed op verskeie maniere plaasvind.

Smeking
Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God (Filip. 4:6). ‘n Smeekgebed is ʼn nederige en dringende versoek aan God waar ons ons behoeftes en begeertes aan Hom voorlê. Dit is ʼn diep afhanklikheid van God se voorsiening en genade.

Danksegging
Ons moet die Here vra vir wat ons nodig het, maar dit is ook noodsaaklik om vir Hom dankie te sê vir dit wat ons reeds uit sy hand ontvang het. Danksegging vorm ʼn integrale deel van gebed. Om God vir sy goedheid en seëninge te loof, versterk ons geloof en herinner ons aan sy getrouheid.

Voorbidding – Om namens ander by God in te tree
En die Here het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; en die Here het Job se besittings vermeerder tot dubbel soveel as voorheen (Job 42:10). Die gedeelte wys vir ons dat wanneer ons vir ander bid, dit ook tot seën in ons eie lewens is.

Om ʼn toegewyde Christen te wees, beteken om toegerus te wees. Paulus herinner ons dat volharding in gebed nodig is, want God se antwoorde kom soms nie onmiddellik nie, maar Hy is getrou en reageer op sy tyd en wyse.
ʼn Christen wat in gebed volhard, is ʼn Christen wat toegerus is om die stryd te stry en die oorwinning te behaal. Dit versterk ons geloof, bring vrede te midde van uitdagings en help ons om God se wil in elke situasie te soek.

Om jou kopie van Bid jy? te koop, klik hier.