Lig in Duisternis Uitgewers, ʼn Christelike Uitgewery, het op 19 Januarie 2025, 462 jaar ná die verskyning van die eerste Heidelbergse Kategismus, sy Hindi-vertaling van die Drie Formuliere van Eenheid in Indië bekendgestel.
Die vertaling is onder leiding van ds. Schalk Strauss, publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers en ds. Johan Schütte, direkteur van kerkadministrasie van die AP Kerk, tydens ʼn konferensie bekendgestel. Hierdie konferensie is daarop gemik om die fundamentele leerstellings van die Christelike geloof by predikante te versterk, en hulle toe te rus met die nodige kennis en kerklike belydenisse om hul gemeentes met die waarheid van die evangelie te bedien.
Die Heidelbergse Kategismus het in 1563 verskyn, voorwaar ʼn geskiedkundige dag, wat die fondament gelê het vir Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. “Dit was ʼn besonderse voorreg om die belangrike vertaling met plaaslike Christenpredikante in hul moedertaal, op presies dieselfde datum as wat die eerste uitgawe drukkers toe is, te kon behandel,” aldus ds. Strauss.
Ds. Strauss voer aan dat die besluit om die Drie Formuliere van Eenheid in Hindi te vertaal, uit ʼn besoek aan Indië in 2020 voortspruit. “Daar is talle Indiese Christenpredikante wat ʼn passie vir die evangelie het, maar wat nie noodwendig die formele teologiese opleiding het nie. Ons het die dringende behoefte aan ʼn goeie vertaling in die Indiese spreektaal geïdentifiseer, en het besluit om die belydenisskrifte te vertaal om op hierdie wyse by daardie predikante se teologiese opleiding betrokke te raak.”
Dié vertaling word beskou as ʼn besonderse mylpaal, nie net wat betref die opleiding van hierdie predikante en die toerusting van plaaslike lidmate nie, maar ook omdat die vertaling ʼn kosbare verbintenis tussen kulture en tale moontlik maak sodat nog meer mense God se waarheid in hul eie taal en konteks kan beleef.






