Lig in Duisternis Uitgewers het met groot kommer kennis geneem van die nuutste verwikkelinge rondom die BELA-wetsontwerp wat potensieel rampspoedige gevolge vir Afrikaanse openbare skole kan inhou. Met die aanvaarding van die wetsontwerp in die Nasionale Vergadering, het die bedreiging vir moedertaalonderrig in Afrikaans en die behoud van Christelike waardes in ons skole ’n nuwe en ernstige fase betree.
Alhoewel die wetsontwerp nog deur die Raad van Provinsies aanvaar moet word voordat dit aan die President vir ondertekening voorgelê kan word, is daar reeds kommer dat Afrikaanse skole onder hierdie wet gedwing mag word om na Engels as onderrigtaal oor te skakel. Dit is veral kommerwekkend in die konteks van die voortgesette druk teen die Afrikaanse taal en die Christelike geloof in ons opvoedkundige instellings.
By Lig in Duisternis Uitgewers glo ons dat die behoud van moedertaalonderrig en Christelike waardes nie onderhandelbaar is nie. Dit is ‘n Godgegewe voorreg en daarom heilige grond waaroor die staat geen seggenskap behoort te hê nie. Ons herinner ouers en opvoeders aan die internasionaal erkende akademiese konsensus dat moedertaalonderrig noodsaaklik vir suksesvolle leer is. Die verlies van Afrikaans as onderrigtaal kan ernstige gevolge hê vir die toekoms van ons kinders en die voortbestaan van ons taal.
Ons doen ’n beroep op alle betrokke partye om hul steun te gee aan inisiatiewe wat die behoud van Afrikaanse Christelike onderwys bevorder, of dit nou in die vorm van privaat skole, tuisskoling, of ander alternatiewe is. Hierdie instansies speel ’n sleutelrol in die opleiding van onderwysers wat in staat is om hierdie waardes aan toekomstige geslagte oor te dra. Ons kinders behoort immers aan God en nie aan die staat of die samelewing nie. Hulle is aan ons toevertrou en Hy sal van ons rekenskap eis van wat op hul harte geskrywe staan. Ons kan dus nie toelaat dat die staat sy ideologie in hulle harte grafeer nie. Ons opdrag en verantwoordelikheid bly: En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy gaan slaap (Deut. 6:6-7).
