Boekbekendstelling: Die Katte van Kathu sit hul dorp oppi mêp

Lig in Duisternis Uitgewers het sy nuutste kinderboek, Die katte van Kathu sit hul dorp oppi mêp, Maandagoggend in Laerskool Garsfontein se skoolsaal bekendgestel. 

Hierdie geleentheid was ‘n spesiale lekkerte vir die skool se graad 3-leerlinge. Hannekie Verwoerd van Luistervink Stories het die boek voorgelees, terwyl pragtige illustrasies teen die oorhoofse skerm vertoon is. 

Die skrywer, Adriaan Swanepoel, illustreerder, Corli-Petrea van Niekerk en die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het die geleentheid bygewoon. Die gaste is met ope arms verwelkom. Die opwinding en entoesiasme was duidelik sigbaar soos die kinders met groot oë én groot glimlagte die kattestorie “geleef” het. Die katte van Kathu sit hul dorp oppi mêp is ‘n genotvolle kinderboek wat die waarde van deursettingsvermoë, waagmoed en spanwerk baie mooi na vore bring. 

Die katte van Kathu is ‘n spesiale klomp katte wat nie skroom om ‘n nuwe uitdaging aan te pak nie. Hulle kyk die kat eers goed uit die boom toe ’n nuwe kat sy opwagting in die dorp maak. Maar, soos dit katte van inbors betaam, is hulle gou soos een man, of kat, gereed om die inwoners te laat besef hoe belangrik die dorpie Kathu is.

Die slim woordspeling in die katte se name leer die kleinspan gou die betekenis van moeilike woorde. Hulle leer oor familiebande en die belangrikheid om, ongeag uitdagings, vas te byt en jou droom te verwesenlik. Die skrywer se fyn sin vir humor en die kreatiewe wyse waarop hy idiomaties met die taal omgaan, sal egter ook volwasse lesers se lagspiere prikkel.

Hierdie kinderboekie is ‘n uitstekende toevoeging tot enige kind se leesrak en dien as ‘n waardevolle hulpmiddel vir ouers en onderwysers om lewenslesse op ‘n prettige en toeganklike manier oor te dra. Lig in Duisternis Uitgewers weet sommer dat hierdie boekie die harte van jong lesertjies regoor Suid-Afrika warm sal laat klop.