Een man en een vrou: ’n Bybelse gids vir ’n verwarrende tyd

In ’n wêreld waar seksuele identiteit, huwelik en geslag al hoe meer deur sosiale norme en wetgewing herdefinieer word, bied Joel Beeke en Paul Smalley se Een man en een vrou helder, liefdevolle, dog Skrifgefundeerde antwoorde. Hierdie nuwe Afrikaanse vertaling van Lig in Duisternis Uitgewers is nie ’n polemiek nie, maar ’n pastorale gids vir gelowiges wat in die lig van die waarheid van die Skrif wil leef.

Die boek ondersoek wat die Bybel werklik leer oor seksuele verhoudings tussen persone van dieselfde geslag en waarom ware liefde nie sonde omhels nie, maar die waarheid. Dit herinner ons daaraan dat God self geslag, seksualiteit en die huwelik geskep het en dat ons nie die skeppingsorde na menslike willekeur mag verander nie. Die boek bied nie net antwoorde nie, maar ook hoop deur te wys dat Christus sondaars red, vergewe en aan hulle ’n nuwe identiteit skenk. Die spreek liberale teenargumente met respek en Bybelse insig aan.

Joel Beeke verduidelik dat die boek spesifiek geskryf is vir kerkgaande mense wat in die war is oor wat die Bybel oor tersaaklike saak sê: “Daar is soveel boeke oor homoseksualiteit – vir voorstanders en teenstanders. Maar hierdie boek is vir gewone gelowiges. Daar is soveel verwarring, soveel geraas op sosiale media. Mense vra: Is die huwelik regtig net tussen een man en een vrou? Is iemand werkik getroud wanneer hy in ‘n verbintenis staan wat volgens die landswette as ‘n “huwelik” beskryf, maar deur God se Woord verbied word?”

Wat hierdie kort, kernagtige boek besonders maak, is die toon: sagmoedig, deernisvol en pastoraal. Beeke beklemtoon dat Christene ’n nederige benadering moet volg wanneer hulle met mense in homoseksuele verhoudings omgaan: “As jy mense op ’n strydlustige manier nader, trek hulle net verder weg. Baie van hulle worstel met werklike, diepgaande kwessies. Jy raak aan hul identiteit, hul diepste gevoelens. Die enigste ding wat ’n hart werklik kan verander, is wanneer iemand Bybelse waarheid omhels.”

Die boek dien dus nie net as ’n teologiese verklaring nie, maar as ’n model vir hoe gelowiges met liefde én waarheid kan omgaan met ’n onderwerp wat dikwels emosioneel en persoonlik is. Dit herinner ons daaraan dat elke mens, ongeag seksuele oriëntasie, geskep is na die beeld van God en dat die evangelie hoop bied vir elke siel.

Rosaria Butterfield, voormalige LGBTQ-aktivis en nou ’n bekende Christelike skrywer, beveel die boek aan vir sy Skrifgetrouheid en pastorale sensitiwiteit. Sy skryf: “Christene wat met homoseksuele begeertes worstel, sal in hierdie boek liefdevol herinner word aan die beloftes wat eenheid met Christus inhou midde hul stryd teen inwonende sonde. Ouers sal beter verstaan hoe om na die onderskeidende woorde van die Skrif te luister terwyl hulle hul gebede ten hemele rig.”

Die boek beklemtoon dat die Bybelse huwelik nie bloot ’n sosiale kontrak is nie, maar ’n skeppingsordonnansie, ’n heerlike instelling wat God tot sy eer en ons heil gemaak het. Dit vier die skoonheid van God se skeppingsorde: een man, een vrou, in ’n verbintenis wat sy karakter weerspieël.

Ontdek ons boekwinkel vol Afrikaanse Christelike boekeBybelmedia en Bybelstudie materiaal. Volg ons op Facebook, sluit aan by ons WhatsApp-groep of teken in vir ons nuusbrief vir nuwe publikasies.