Kolokwinte en kapitele – dit hoef nie Grieks te wees nie.

Wanneer iemand vandag die 1933/53-vertaling van die Bybel begin lees, word hy blootgestel aan woorde, terme en gesegdes wat hoegenaamd nie meer bekend of alledaags is nie. Dit is amper soos om ’n vreemde taal te lees, behalwe dat die uitspraak van die woorde bekend is.

In sy boek “Kolokwinte en Kapitele”, gee Barry Torlage verduidelikings oor sekere woorde en gesegdes wat in die 1953/33-vertaling raakgelees word. Sy uitgangspunt met die skryf van hierdie handige boek, is dat indien mense meer kennis oor die 1953/33-vertaling se terme en gesegdes het, die Woord meer toeganklik en waardevol vir die leser sal word.

Die debat oor watter vertaling van die Bybel die beste is, woed al dekades lank in Suid-Afrika. Toe die ou Statevertaling in die dertiger jare van die twintigste eeu vervang is deur die Afrikaanse weergawe van die Bybel, was daar groot teenkanting teen dié “plat” vertaling wat in sogenaamde “kombuistaal” geskryf is. Vyftig jaar later, met die verskyning van die 1983-vertaling, was die 1933/53-vertaling nie meer “plat” nie; die taal was nie meer “kombuistaal” nie, maar word toe deur baie geag as swierige of selfs verhewe taal wat pas by ’n geskrif wat inderdaad verhewe is.

“Die rede vir die opstelling van hierdie boekie is nie omdat ek van mening is dat die 1933/53- vertaling die beste of enigste aanvaarbare vertaling is nie, maar omdat ek weet dat baie mense, oud en jonk, om een of ander rede genoop word om dié besondere vertaling van die Bybel te lees en dan daarmee sukkel,” sê Torlage.

Torlage gee ook ander waardevolle inligting in die boek mee soos: wie die aartsvaders en stamvaders was, wie die apostels was, hoe om opskrifte en byskrifte te interpreteer, hoe om die Here se Naam te verstaan, hoe die konings van Israel mekaar opgevolg het en hoe die optrede van profete met die konings se regeertydperke verband gehou het.

Die boek verduidelik die betekenis (met teksverwysings), van ongeveer 130 terme en gesegdes wat in die 1933/53-vertaling voorkom, onder meer die woorde bare, arglistig, muilesel, en dan die interessante woorde uit die titel kolokwinte en kapitele.

1 Konings 6: 18 “… en sederhout was aan die huis binnekant: snywerk van kolokwinte en oop blomknoppe, dit alles van sederhout; geen klip was daar te sien nie.” 1 Konings 7:16: “… en hy het twee kapitele gemaak om op die toppe van die pilare te sit, gietwerk van koper; vyf el was die hoogte van die een kapiteel, en vyf el was die hoogte van die ander kapiteel.” Kolokwinte en kapitele is vreemde woorde vir die meeste van ons, maar as ’n mens eers verstaan dat ‘n “kolokwint” ’n komkommeragtige plant is en ’n “kapiteel” die versierde bo-stuk van ’n pilaar ̶ dan kry jy ’n duideliker en mooier prentjie van die werklike prag van Salomo se paleis. Hierdie boek beloof om die inhoud en waarde van die 1953/33- vertaling vir elke leser te ontsluit.