Die toonaangewende Christelike uitgewery, Lig in Duisternis Uitgewers, het die Drie Formuliere van Eenheid (Heidelbergse Kategismus, Nederlandse Geloofsbelydenis en Dordtse Leerreëls) in Hindi vertaal, en het die voorreg om dié publikasie onder die leiding van di. Schalk Strauss en Johan Schütte op 19 Januarie 2025 in Indië bekend te stel.
Volgens ds. Schalk Strauss, publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers, spruit die projek voort uit ʼn besoek aan Indië in 2020, waar die dringende behoefte aan ʼn goeie vertaling van hierdie belangrike belydenisskrifte in die Indiese spreektaal geïdentifiseer is. “Ons het die behoefte geïdentifiseer en die geleentheid raakgesien om betrokke te raak by die teologiese opleiding van Indiese Christenpredikante wat ʼn passie vir die evangelie het, maar wat nie noodwendig die formele teologiese opleiding het nie. Dié vertaling word beskou as ʼn mylpaal in die opleiding van hierdie predikante en die toerusting van plaaslike lidmate,” voeg ds. Strauss by.
Lig in Duisternis Uitgewers beoog om die publikasie hand aan hand met ʼn konferensie waartydens die Heidelbergse Kategismus met 20 plaaslike Christenpredikante behandel gaan word, bekend te stel. “Hierdie konferensie is daarop gemik om die fundamentele leerstellings van die Christelike geloof te versterk en predikante toe te rus met die nodige kennis en kerklike belydenisse om hul gemeentes met die waarheid van die evangelie te bedien.”
Volgens ds. Strauss is hierdie projek ʼn stap nader aan Lig in Duisternis Uitgewers se visie om Christenpredikante in Indië te ondersteun en in hul bediening te versterk. “Ons glo vas aan ons roeping om die evangelie verder as ons grense uit te dra, en te verseker dat Christenpredikante die suiwer leer, soos wat dit in ons gereformeerde belydenisskrifte verwoord is, verkondig.”
Om hierdie reuseprojek suksesvol te volvoer, benodig Lig in Duisternis Uitgewers sowat R100 000 om die publikasie, bekendstelling, konferensie en die opleiding van die plaaslike Christenpredikante te finansier en nooi die publiek uit om betrokke te raak by hierdie merkwaardige inisiatief. Om die projek te ondersteun, klik hier.
