Mediaverklaring || Dr. Joel Beeke besoek SA

Lig in Duisternis Uitgewers bied suksesvolle boekbekendstelling van In die Spore van Jesus aan.

Lig in Duisternis Uitgewers het op 22 Junie die heerlike voorreg gehad om In die Spore van Jesus, die Afrikaanse vertaling van dr. Joel Beeke se boek, Walking as He Walked, bekend te stel.

“Die bekendstellingsgeleentheid was vir ons baie spesiaal,” sê ds. Schalk Strauss, Publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers. “Dr. Beeke was self teenwoordig en ons het tyd gehad om ná die bekendstelling ‘n bietjie met hom te gesels.”

Walking as He Walked is die produk van vier preke wat dr. Beeke gedurende ‘n konferensie in Wallis gelewer het. Dié publikasie is onlangs deur ds. Henning Dafel vertaal en is nou as In die Spore van Jesus op Lig in Duisternis Uitgewers se webwerf en as e-boek op Kindle beskikbaar.

Dr. Beeke se versugting is dat hierdie boek gelowiges sal aanmoedig om die Here na te volg in alles wat hulle dink, doen en sê.

Ds. Strauss sê hy hoop hierdie boek sal mense tot die besef bring dat hulle Christus nie met ‘n bolangse Christenskap kan volg nie. Hul navolging moet met gelowige harte wees wat eg en opreg is; bereidwillig om ook hul kruise op te neem en Hom te volg.

Dr. Beeke, op besoek al die pad van Michigan (VSA), was die gasspreker by Mukhanyo Theological College se seminaar oor “Reformed Theology, Piety and Experiential Preaching” wat op 21 en 22 Junie in Wonderboom, Pretoria aangebied is. Dr. Beeke sal ook by die Skogheim-konferensie in Natal optree. Die tema daar is “Huisgodsdiens” en sake wat bespreek gaan word is hoe gesinne huisgodsdiens moet benader, hoe dit in huwelike opgebou kan word en hoe gelowiges saam die Here kan dien.

Gedurende die seminaar in Pretoria het dr. Beeke ses lesings oor die verloop van twee dae aangebied. Hy het die eerste dag gefokus op wat dit beteken om gereformeerd te wees, wat die kern van gereformeerde teologie is en God se soewereiniteit. Hy het klem gelê op die goedheid van die Here, dat Hý Here van alles is, dat Hy alomteenwoordig is en dat die mensdom elke dag vir Hom moet leef. Daar is dus baie meer aan gereformeerde teologie as die vyf solas van die Reformasie.

Gedurende die tweede lesing het hy op die vyf solas gefokus: Sola Scriptura, Solus Christus, Sola Fide, Sola Gratia, Soli Deo Gloria.

In sy derde lesing het dr. Beeke na die hartklop van gereformeerde teologie asook Calvyn gekyk. Hy het seminaargangers aangemoedig om Godvresend voor die Here se aangesig te leef.

Op dag twee het dr. Beeke gefokus op prediking, wat volgens ds. Strauss een van sy sterkpunte is. Prediking is daarop gemik om nie net inligting aan iemand oor te dra nie, maar dit moet jou hart en menswees aanraak en jou tot aanbidding voor God bring. Hy het ook kriteria gegee hoe ‘n prediker se lewe moet wees om so te kan preek.

Die laaste lesing het praktiese wenke gegee om dit toe te pas, bevindelik te preek en hoe om mense se harte deur Evangelieverkondiging aan te raak.

“Ek hoop in my hart dat dr. Beeke se besoek die vuur in predikante sal aanwakker om nie net dogma in hul preke oor te dra nie, maar die Evangelie so te bring dat dit elke aspek van mense se lewens sal aanspreek sodat daar ware verandering en bekering in ons samelewing kan plaasvind,” aldus ds. Strauss.

Die boekbekendstelling en vrae-en-antwoordsessie sal binnekort op Lig in Duisternis Uitgewers se YouTube-kanaal beskikbaar wees.