Muskietejag deur AD Keet

Jou vabond wag ek sal jou kry
van jou sal net ′n bloedkol bly
Hier op my kamermure.
Deur jou vervlakste gonsery,
deur jou gebyt en plaery
Kon ek nie slaap vir ure.

Mag ek my voorstel, eer ons skei,
Eer jy die doodslag van my kry –
My naam is Van der Merwe.
Muskiet, wees tog nie treurig nie,
Wees ook nie so kieskeurig nie,
Jy moet tog eendag sterwe.

Verwekker van malaria
Sing maar jou laaste area –
Nog een minuut vir grasie.
Al soebat jy nou nog so lang,
Al sê jy ook ek is nie bang,
Nooit sien jy weer jou nasie …

Hoe sedig sit hy, o, die kring!
Sy kinders kan maar kranse bring,
Nou gaan die vabond sterwe …
Pardoef! Dis mis! Daar gaan hy weer!
Maar dood sal hy sowaar ek sweer –
My naam is Van der Merwe!