’n Ewige troos: Die tydlose versekering van die Heidelbergse Kategismus

Op 19 Januarie 1563 verskyn die Heidelbergse Kategismus vir die eerste keer, ʼn geskiedkundige dag wat die fondasie gelê het vir die Drie Formuliere van Eenheid: die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis, en die Dordtse Leerreëls. Vandag, 462 jaar later in ʼn wêreld wat heeltemal anders funksioneer, kan ons die vraag vra: Is die Heidelbergse Kategismus vandag nog relevant?

Die kort antwoord is dat dit nog net so relevant is as 462 jaar gelede. Die Heidelbergse Kategismus begin met ’n vraag wat tot die kern van ons menslikheid spreek: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?” Hierdie diepgaande vraag spreek tot ons grootste behoefte aan sekerheid. Die antwoord wat die Heidelbergse Kategismus gee, is gegrond in die evangelie en dit bied ’n troos wat alle aardse maatstawe oortref: “Dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe, nie aan myself nie, maar aan my getroue Saligmaker, Jesus Christus, behoort.”

Anders as die verganklike troos wat gevind word in besittings, sukses of persoonlike prestasies, wys die Heidelbergse Kategismus ons op die ewige troos, naamlik om aan Christus te behoort. Hierdie grondliggende waarheid herinner ons daaraan dat ons Verlosser ons deur sy offer verlos het, oor ons waak, en verseker dat niks ons van sy liefde kan skei nie. Teenoor ʼn tydsgees wat sin probeer vind in tydelike plesier of selfstandigheid, lei die Kategismus se boodskap ons om ware vrede in die oorgawe aan God se voorsienigheid te vind.

Die troos van die Heidelbergse Kategismus is holisties – dit sluit ons verstand, hart, wil en siel in. Dit is nie bloot intellektuele kennis nie, maar ’n diep, Geesgegewe geloof in God se beloftes. Hierdie troos word op drie noodsaaklike elemente gegrond:
Kennis van sonde: Die erkenning van ons gebrokenheid en sondigheid openbaar ons behoefte aan ’n Verlosser. Soos Jesus gesê het: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering (Mk. 2:17). Slegs wanneer ons ons ellende verstaan, kan ons die omvang van God se genade waardeer.

Kennis van verlossing: Ons ervaar ware troos wanneer ons besef dat ons redding in Christus is. Wanneer ons die diepte van sy verlossingswerk begryp, word ons geloof versterk en keer dit ons om na alternatiewe oplossings te soek.
Kennis van dankbaarheid: Verlossing lei tot ’n lewe van dankbaarheid, en dankbaarheid wat in die Skrif gegrond is, verander ons harte en dryf ons om tot eer van God te leef.

Van die versekering dat geen haar van ons hoof sal val sonder God se wil nie, tot die oproep om blymoedig onder Christus se heerskappy te leef, bied die Heidelbergse Kategismus blywende troos.

Die Heidelbergse Kategismus verseker ons dat ons in lewe en sterwe aan Christus behoort. Hierdie diepgaande waarheid versterk ons geloof, skep hoop, maak ons dankbaar en rus ons toe om die uitdagings van die lewe met vertroue te hanteer. Watter groter troos kan daar dan wees?