Nuwe boek rus gelowiges toe vir diepgaande huisbesoek en Bybelstudiegesprekke

Lig in Duisternis Uitgewers het onlangs Gee julle vir hulle iets om te eet deur ds. Schalk Strauss gepubliseer. Dit is ’n praktiese hulpmiddel wat ouderlinge, predikante, Bybelstudievoorgangers en gelowiges toerus om huisbesoeke en Bybelstudiegesprekke meer doelgerig en diepgaande te begelei.

Die boek spreek ’n algemene behoefte van ouderlinge en predikante aan, naamlik die gevoel van onsekerheid oor wat om te sê tydens huisbesoek, of gesprekke wat oppervlakkig bly en gou met ’n gebed afgesluit word sonder dat die Woord werklik “gebreek” is.

“Hierdie boek is geskryf vir elkeen wat werklik geestelike voedsel aan ander wil bedien. Dit verseker nie net ’n opbouende besoek nie, maar ook ’n ontmoeting met die lewende Woord,” aldus ds. Schalk Strauss.

Gee julle vir hulle iets om te eet bevat dertig deurdagte konsepte, elk met ’n duidelike doelwit, ’n Skrifgedeelte met agtergrond vanuit die belydenisskrifte, besprekingsvrae wat tot nadenke lei en hulp vir gebed. ’n Skrifindeks word ook ingesluit.

Die boek is beskikbaar teen R120 op die webblad of by die boekwinkel in Pretoria.