Nuwe Publikasie | Die regering van Christus in sy kerk

Die regering van Christus in sy kerk het die lig gesien nadat professor WD Jonker se onvoltooide manuskrip in die kelderkamer van sy woonstel gevind is. Die manuskrip is met respek en versigtigheid afgerond en van ʼn bibliografie voorsien, sodat dit uiteindelik as volwaardige boek deur Lig in Duisternis Uitgewers gepubliseer kon word.

“Verouderde taalgebruik en spelwyses is aangepas, maar daar is sover moontlik by die oorspronklike manuskrip gehou,” sê dr. GJ Duursema wat die boek geredigeer en uitgebrei het.

Deel Een bespreek die ontstaan en ontwikkeling van die gereformeerde stelsel van kerkregering tydens die sestiende en sewentiende eeu. “Die kerkreg van Johannes Calvyn word in besonderhede ondersoek, asook die gereformeerde kerkordes uit die Hervorming, wat die Nederlandse vlugtelinggemeente in Londen, die Franse gereformeerde kerke, die Skotse Presbiteriaanse Kerk, Nederlandse en Duitse gereformeerde kerkordes insluit,” verduidelik ds. Schalk Strauss, publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers.

Deel Twee bevat grepe uit die ontwikkeling van die gereformeerde kerkreg in die negentiende eeu. Die verval van die kerkreg in Skotland, Frankryk, Switserland, Duitsland asook die Nederlandse Volkskerk word aangeraak. “Die kerkreg van die Nederlandse Afgeskeie kerkformasies word aan die einde van Deel Twee bespreek,” vervolg ds. Strauss.

Laastens bevat Deel Drie die kerkregtelike ontwikkelings in Switserland, Skotland, Frankryk, Duitsland en die Nederlandse Hervormende Kerk in die jongste tye, waarna daar na die kerkregtelike ontwikkelings in die gereformeerde kerke in Nederland gekyk word.

Dolf Britz, emeritus-professor aan die Universiteit van die Vrystaat, vergelyk die boek met ʼn skat van groot waarde wat vir ʼn lang tyd in ʼn vergeethoek verborge gelê het en beskryf dit as “oorspronklik, betekenisvol, steeds aktueel en akademies betroubaar”. Erik Boer, professor in kerkgeskiedenis aan die Theologische Universiteit Kampen-Utrecht, sien dr. WD Jonker as een van die mees invloedryke leraars van die gereformeerde kerke in Suid-Afrika.

Besoek gerus Lig in Duisternis Uitgewers se webwerf om jou kopie van Die regering van Christus in sy kerk te koop. Die e-boek is ook op Amazon beskikbaar.