Om Christus se liefde te ken

Ons leef in ’n wêreld waarin mense nie baie daarvan hou as dinge vir hulle te moeilik of te filosofies is nie. Mense wil nie graag uitgedaag word om dieper na te dink oor die betekenis van dinge nie. Ons soek baiekeer maar net die oppervlakkige en voor die hand liggende betekenis, want dit maak dit vir ons makliker en eenvoudiger – veral in die “kitswêreld” waarin ons leef.

Tog leer die Bybel ons anders. In Psalm 119:148, byvoorbeeld, lees ons dat die digter skryf dat sy oë “die nagwake” voor is om die Woord van die Here te oordink. Dit beteken dat hy reeds voor sonop wakker is om met God en sy Woord besig te wees en dit te bepeins. Tydens die Here Jesus se geboorte, nadat die herders aan Hom hulde bewys het, lees ons in Lukas 2:19 dat Maria al hierdie dinge gesien het, in haar hart bewaar het en oor die betekenis daarvan nagedink het.

Daar is baie meer aan die evangelie as maar net die voor die hand liggende. Kersfees is veronderstel om ons dieper te laat nadink, want ons is so maklik besig net met die clichés. Kersfees gaan oor baie meer as net die romantiese idee van ’n Kindjie wat in ’n stal gebore is en in ’n krippie lê. Dit gaan uiteindelik oor ’n Verlosser wat die wêreld betree het.

Dit is daarom Lig in Duisternis Uitgewers se gebed dat ons in hierdie Feestyd vir mekaar dit sal bid wat Paulus vir die gemeente in Éfese gebid het: [dat] julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref … (Efés. 3:18-19).

Foto: Rod Long | Unsplash