“Die ‘Ons Lig Luisterstorie-projek’ het net weer vir ons kom wys dat ’n mens se ouderdom bloot net ’n syfer is! Jy kan pret hê en teruggee aan die gemeenskap, maak nie saak hoe oud jy is nie.”
Só sê ds. Schalk Strauss, publikasiehoof van Lig In Duisternis Uitgewers, oor die innoverende luisterstorie-projek vir Afrikaanse kinders wat in November in samewerking met Ons Tuis Aftree -groep geloods is. Die vier voorlesings — opgeneem deur verskeie inwoners van ouer as 80-jaar— word op ’n gebruikersvriendelike, interaktiewe manier, tesame met grafika, as ’n kort video voorgestel en kan gratis afgelaai word.
“Dit was vir ons ’n riem onder die hart om die opgewondenheid van die voorlesers te sien en met watter entoesiasme hulle die voorlesings behartig het. Ons is sommer baie opgewonde oor hierdie projek saam Ons Tuis Aftree-groep en glo dis net die eerste van nog baie opwindende projekte wat voorlê,” sê Strauss.
Die vier titels, Die Wit Rokkie, Bekkie begeer alweer, Honkidôrie Hus en Millie se ontdekking, eggo Lig in Duisternis Uitgewers se strewe om leesstof met ’n dieper betekenis en Christelike grondslag aan te bied.
Die interaktiewe “boekrak” kan gratis op beide Lig in Duisternis Uitgewers (www.liginduisternis.co.za/) en Ons Tuis (www.onstuis.org) se webtuistes afgelaai word. Volgens Strauss sal hierdie titels in harde kopie, beskikbaar op Lig in Duisternis se aanlyn boekwinkel, die perfekte geskenk vir kinders wees.
“Die rol wat ’n bejaarde in kinders se lewens speel, is van onskatbare waarde. Afgesien daarvan dat hierdie projek ’n liefde vir lees by kinders prikkel, wou ons die ouer, Afrikaanse stem aan kinders bied wat self nie meer ’n grootouer het nie, of dalk in ’n ver land sit waar Afrikaanse boeke nie maklik bekombaar is nie. Dit kan ook heerlike binnenshuise vermaak verskaf as die weer nie saamspeel nie.”
Lig in Duisternis Uitgewers stel graag die vier lesers aan u bekend:
Anna Marx (88) van Ons Tuis: Machteld Postmus, lees Millie se ontdekking
Tannie Anna het die grootste deel van haar lewe in Pretoria, maar ook vir 30 jaar in Naboomspruit, gewoon. In haar jong dae was sy ’n proefleser wat onder andere vir Van Schaik gewerk het. Sy is baie lief vir lees en musiek. Sy stel nog graag musiekprogramme op. Millie se ontdekking word opgedra aan haar agterkleindogter, Lisa Willemse (6).

“’n Mens moet dankbaar wees vir elke liewe oggend wat jy wakker word. Leef jou lewe soos wat jy hom kry, maar dit moet ’n nuttige lewe wees!”
Dawn van Straaten (83) van Ons Tuis: Machteld Postmus, lees Bekkie begeer alweer
Dawn het in Kroonstad grootgeword. Sy studeer onderwys en begin werk by ’n plaasskool digby Lichtenburg genaamd: Twee-buffels-met-een-skoot-mors-dood-geskietfontein! In 1961 trou sy met Jan van der Merwe en hul verhuis vir 17 jaar na Duitsland. Hulle is geseënd met drie kinders. Dawn glo dat die geheim van ’n lang leeftyd romanse en verdraagsaamheid teenoor mekaar is. Haar gunsteling tydverdryf is om brug te speel.

“Leef positief en hou vas aan jou godsdiens.”
Freda Surtees (88) van Ons Tuis: Machteld Postmus, lees Honkiedôrie Hus
Freda is ’n vrou van vele talente. Dié ma van vyf het onder andere vir tien jaar haar eie kleuterskool gehad, ’n brei- en lapwinkel, sowel as ’n boutique met ’n ontwerper en twee voltydse kleremakers. Sy geniet dit vreeslik om te brei, veral komberse. Honkiedôrie Hus word opgedra aan haar ses kleinkinders en een agterkleinkind wat in Engeland woon.

“Hou jou hand in die Here s’n en gee om vir mekaar. Wees lief vir jou naaste.”
Jettie Booyse (81) van Ons Tuis: Riviera, lees Die Wit Rokkie
As 12-jarige dogtertjie het sy vir drie weke per boot na Suid-Afrika gereis om haar nuwe lewe in Carletonville te begin. Sy studeer verpleegkunde in Pretoria en werk tot op die ouderdom van 72 by ouetehuise. Jettie was ’n aktiewe swemmer en het ook water-aërobiese oefeninge aangebied. Sy dra Die Wit Rokkie op aan haar twee pleegkinders, Nico en Karina, en haar vier kleinkinders.

“Bly aktief en doen wat die lewe vir jou lekker maak!”
