Lig in Duisternis Uitgewers is verheug om die wenners van Katteklets: Die katte van Kathu-skryfkompetisie aan te kondig.
Kinders tussen die ouderdom van 5 en 18 jaar het die geleentheid gehad om groot kontantpryse met hul skryfwerk te wen. Hulle kon in vier kategorieë deelneem. Die deelnemers moes ’n katkarakter uit Die katte van Kathu sit hul dorp oppie mêp deur Adriaan Swanepoel kies en dit die hoofkarakter in hul eie verhaal of video-vertelling maak.
Die wenners is soos volg:
5 tot 7 jaar: Josua Fourie (CVO Skool Potgietersrus)
8 tot 10 jaar: Mia le Roux (Laerskool Mooirivier)
11 tot 14 jaar: Carine Möller (CVO Skool Potgietersrus)
15 tot 18 jaar: Maria du Plessis (Tuisskool)
Afriforum was die borg van die kontantpryse. Hulle het onderskeidelik R1 000, R2 000, R4 000 en R5 000 per kategorie in die sak gesteek. Die jongste ouderdomsgroep kon ’n video-vertelling inskryf terwyl die ander ouderdomsgroepe geskrewe verhale wat aan ’n streng woordtelling onderwerp was, kon inskryf.
Volgens ds. Schalk Strauss, publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers, het hierdie kompetisie die lees-en skryfvaardighede van kinders bevorder. “Ons wou ook ’n projek ter viering van Afrikaans se amptelike 100ste verjaarsdagviering loods. Kinders is die toekoms van die land, en hulle kon ’n inspirerende kinderboek in hul eie taal lees, en daaroor skryf,” het hy gesê.
Die beoordelaars was onder meer die skrywer van die kinderboek, Adriaan Swanepoel, en Alana Bailey van AfriForum.
“Ek het die verhale en video’s ongelooflik baie geniet. Die deelnemers was uiters kreatief,” het Bailey gesê.
“Die deelnemers wat nie gewen het nie, het ons ook beïndruk en moet asseblief aanhou skryf,” het Swanepoel afgesluit.
Ontdek ons boekwinkel vol Afrikaanse Christelike boeke, Bybelmedia en Bybelstudie materiaal. Volg ons op Facebook, sluit aan by ons WhatsApp-groep of teken in vir ons nuusbrief vir nuwe publikasies.




