Kyk hoër. Delf dieper. Sien meer!

Een ding waarmee ons nie sukkel hier by Lig in Duisternis Uitgewers nie, is identiteit. Ons weet wie ons is en waarvoor ons staan. Ons het ’n duidelike roeping waaraan ons graag gehoorsaam wil wees. Soos wat daar oor die vroeë kerk berig word, wil ons graag Jerusalem (ons samelewing) met ons leer vervul (vlgs. Hand. 5:28). Hierdie “leer” verwys natuurlik na die onwankelbare evangelie van Jesus Christus. Sy heerskappy oor elke aspek van ons lewens en ons samelewing, behoort geproklameer te word.

Ons het iets van hierdie hoë roeping in ons nuwe slagspreuk probeer verwoord: Kyk hoër. Delf dieper. Sien meer! Ons doelwit is om die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap met Skrifgetroue en behoudende inhoud te bedien en te beïnvloed. In ’n verwarde wêreld waarin mense se werklikheid dikwels deur die tydelike oorweldig word en hulle perspektief vernou, wil ons hulle help om hoër te kyk. Ons wil hulle help om hul oë hoër as die berge op te slaan. Deur ons publikasies en produkte wil ons mense help om dieper te delf in die eindelose skatkamers van die ewige Woord van God, sodat hulle oë kan oopgaan en hulle in verwondering kan staan, omdat hulle meer kan sien as die voor die hand liggende.

 

Foto: ole herman Larsen from Pexels