Tydens koning Charles III van Engeland se eerste Kersboodskap aan sy onderdane het hy nogal sterk op die tema van hoop gefokus. Wat teleurstellend was, is die rede wat hy voorgehou het waarom ons hoopvol kan wees. Hy moedig sy onderdane aan om hoop te put uit die inherente goedheid wat hy glo daar in elke mens is en wat ons in daaglikse dade van welwillendheid teenoor mekaar beleef. Ongeag iemand se godsdienstige agtergrond, sê hy, is dit hierdie soort goedheid waaruit ons moed kan skep. As hoof van die Anglikaanse Kerk het hy ’n gulde geleentheid deur sy vingers laat glip om Jesus Christus, die oorwinnaar oor die Bose en oor die dood, as die enigste hoop van die wêreld voor te hou.
Wanneer ons die nuwe jaar ingaan, is daar in baie mense se harte groot bekommernis oor wat voorlê. Hoeveel verval gaan ons hierdie jaar beleef? Hoeveel korrupsie gaan daar nog wees? Wat gaan die impak op ons sakke wees met ’n krimpende en steierende ekonomie? Vir hierdie soort bekommernis het ’n mens meer nodig as ander mense se sporadiese welwillendheid. Jy het ’n hoop nodig wat nie beskaam nie – ’n hoop wat nie bepaal of beïnvloed word deur die hier en die nou nie, maar wat die ewigheid in strek. Daardie hoop vind ons in Jesus Christus alleen. Dit is gevestig in sy heerskappy en die feit dat alle mag in die hemel en op aarde aan Hóm behoort (vgl. Matthéüs 28:18).
Hier by Lig in Duisternis Uitgewers is ons met blydskap uitdelers van hierdie hoop. Ons is deur die Koning van die kerk geroep en daarom sal ons ook gehoorsaam wees om hierdie boodskap van hoop onder elke volk en taal en nasie te verkondig.
