Oor die afgelope klompie jare het ons al gewoond geraak aan ’n klompie vreemde veldtogte, soos byvoorbeeld die Movember-veldtog. Hierdie veldtog moedig mans aan om hul snorre en baarde gedurende Novembermaand te laat groei om sodoende bewustheid te skep en fondse in te samel vir navorsing oor gesondheidstoestande wat manne raak.
Die groei van snorre en baarde beklemtoon natuurlik manlikheid en word ook in die Bybel baie sterk met manlikheid geassosieer. November is dus ’n maand waarin manlikheid en sake wat mans raak, op hierdie speelse manier op die voorgrond geplaas word.
Hier by Lig in Duisternis Uitgewers is die kweek en bevordering van Bybelse manlikheid waardeur Christus verheerlik word, natuurlik vir ons baie belangrik. Daarom publiseer ons nie uitsluitlik geestelike boeke nie, maar ook fiksie, soos die onlangse heruitgawe van Die Buiter-reeks. In hierdie reeks deur Gerrie Radlof (waarvan die eerste drie reeds herdruk en die res op pad is), word manlikheid op ’n wyse uitgedruk wat iets weerspieël van dit waaroor Bybelse manlikheid gaan: Diensbaarheid, onselfsugtige selfopoffering, eerlikheid, beginselvastheid, integriteit wat nie skroom om vir die waarheid te staan nie, maar wat ook vroue met waardigheid en respek hanteer.
Ons samelewing het sulke manne nodig!
Wees op die uitkyk vir ons spesiale aanbiedinge vir die Feestyd waar jy hierdie en ander hoogstaande publikasies teen sakpaspryse kan aankoop.
