Dans op die maat van toekomsmusiek

“Hoop is om die melodie van die toekoms te hoor. Geloof is om nou reeds op die maat daarvan te dans.” – Rubem Alves (Brasiliaanse teoloog)

    Ons staan in die wegspringblokke – gereed vir die nuwe jaar. Niemand van ons weet wat hierdie jaar vir ons inhou nie. Ons weet nie watter hartseer daar op ons wag, watter versoekings in die donker hoekies van die toekoms skuil en watter uitdagings soos berge voor ons gaan verrys nie. Dit is ’n onsekerheid wat jou angsbevange kan laat.

    Hoewel gelowiges nie hierdie onsekerheid vryspring nie, het ons egter iets vir die angs – hoop. Die apostel Petrus herinner ons dat ons deur die opstanding van Jesus Christus ’n “lewende hoop” het (vgl. 1 Petr. 1:3). Baie verbind hierdie hoop net aan “eendag”, wanneer Christus sal terugkeer en sy kerk versamel en verlos om vir altyd by Hom te wees. Wie die Christelike hoop tot eendag beperk, verskraal egter die betekenis daarvan. Die Christelike hoop het vele fasette wat ook in 2025 vir ons vrede en gemoedskalmte bring. Dit sluit in dat ons nou reeds onder God se Vaderlike sorg en beskerming staan en dat niks ons van sy liefde kan skei nie. Dit sluit in dat ons nou reeds verlos is van ons sonde sodat ons nie langer slawe daarvan hoef te wees nie. Dit sluit in dat ons nou reeds God se geliefde kinders is en daarom nie aan ons identiteit hoef te twyfel nie.

    By Lig in Duisternis Uitgewers hou ons daarvan om ons lesers hierdie toekomsmusiek te laat hoor. Ons hou daarvan om die “musiek” op papier te sit sodat ons lesers hoër kan kyk, dieper kan delf en uiteindelik meer kan sien. Ons gebed is dat die Vader Lig in Duisternis Uitgewers se projekte in hierdie jaar sal gebruik sodat jy hoop kan vind, sodat jy die melodie van die toekoms kan hoor, terwyl jy gelowig op die maat daarvan begin dans.