Mediaverklaring || Lig in Duisternis Uitgewers loods aksie vir Verootmoedigingsondag

Lig in Duisternis Uitgewers se aksie om op Sondag 23 Julie 2023 soveel moontlik gelowige Suid-Afrikaners (ongeag kerkverband) op te roep om in verootmoediging terug te draai na God, is aan die rol. Die Uitgewer wil daarom alle Suid-Afrikaanse kerke en Christene aanmoedig om op Sondag 23 Julie dieselfde preek te gebruik. 

Die preek “Waar is jou sondes?” van JC Ryle (vertaal deur ds. Henning Dafel), sal as verootmoedigingsboodskap gebruik word. Die preek is ‘n passievolle beroep op gelowiges om erns te maak met bekering en hul lewens opnuut aan Christus toe te wy, aldus ds. Dafel.

Ds. Schalk Strauss, Publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers, sê die tyd vir verootmoediging in Suid-Afrika is nóú, “en daarom nooi ons alle gemeentes uit om aan hierdie verootmoedigingsgeleentheid deel te neem. In ‘n wêreld wat toenemend verwêrelds en in Goddeloosheid verval, is die boodskap van hierdie preek lewensnoodsaaklik”. 

Lig in Duisternis Uitgewers se versugting is dat die Here die preek “Waar is jou sondes?” op Sondag 23 Julie sal gebruik om bekering onder gelowiges te bewerk en hulle aan te moedig om God se genadetyd te gebruik en opnuut na Hom te draai, want: Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God (Hebr. 10:31). 

Lig en Duisternis Uitgewers nooi belangstellendes dus hartlik uit om op Sondag 23 Julie aan hierdie besonderse verootmoedigingsgeleentheid deel te neem. 

Dienste sal op RSG, Pretoria FM en YouTube uitgesaai word. Loer ook op Lig in Duisternis se webwerf om te sien watter gemeente naby jou die preek gaan gebruik.

Vir enige navrae of meer inligting, kontak Lig in Duisternis Uitgewers by hoof@liginduisternis.co.za of besoek ons webwerf.