Ontsnap na die wonderwêreld van boeke

20 September 2023 | Uit die redakteur se pen | 0 comments

Daar waar hedendaagse tegnologie jou gereeld in sy ystergreep beet het en beroof van dít wat werklik saak maak, móét jy jou aandag bewustelik rig op die dieper dinge wat die siel voed. Dit is hier, in die stille kamers van die hart, waar die ware betekenis en doel van jou bestaan dan na vore tree.

Dit is maklik om jouself in hierdie digitale wêreld te verloor, om vasgestrengel te raak in die net van aanhoudende inligting en vermaak. Die brein word voorgesê, die geestesoog oopforseer vir ‘n stortvloed van beelde wat die wêreld jou wil laat sien. Maar te midde van hierdie tegnologieaanslag, is daar ‘n plekkie van stilte en verbeelding waarheen jy kan ontsnap.

Boeke is die middel wat jou in staat stel om jou gedagtegrense te oorskry – om nuwe wêrelde te ontdek, om nuwe wêrelde te skep. Wanneer jy die bladsye van ‘n boek oopvou, maak jy nie net woorde oop nie – jy maak deure van kreatiwiteit en verbeelding oop

Soos Antjie Krog dit stel: “Maak nie saak hoe arm nie, ’n kind wat lees, is ’n bevoorregte kind. Maak nie saak hoe verlate of verwaarloos nie, ’n kind wat lees, is ’n gekoesterde kind.”

Soos vir die kind, so ook vir die volwassene: In alle omstandighede laat lees ons droom, ons groei, ons leer. Dit is ‘n geskenk wat ons kan toe-eien; ‘n geleentheid om te ontsnap na ‘n wêreld wat ons voed met die wysheid en die kennis uit die lewensverhale van ander mense.

Ek daag jou uit om hierdie maand die wonderwêreld van jou verbeelding te verken. Laat die bladsye wat jy lees nie net swart ink op papier bly nie, maar vensters wees wat lei na avontuur, kennis en inspirasie.

Deel graag met jou vriende

Waar’s Appelkie die muis?

Appelkie