Rentmeesters op die skouers van reuse

5 Mei 2022 | Uit die redakteur se pen | 0 comments

6 April het lankal reeds ’n niksseggende dag op ons kalender geword. As jy die meeste mense na die betekenis daarvan vra, trek hulle hul skouers op. Tog is dit seker een van die belangrikste dae in die geskiedenis van ons land, ons volk en beslis ook in die geskiedenis van die kerk. In die verlede was hierdie dag ’n vakansiedag bekend as “Stigtingsdag” waarop Jan van Riebeeck se koms na die Kaap de Goede Hoop herdenk is.

Twee jaar ná sy koms, was daar ’n herdenking van hul aankoms in die Kaap. Tydens dié geleentheid het Van Riebeeck en elkeen daar ’n gelofte teenoor God afgelê waarin die nageslag ook betrek is. Hierin het hulle onder meer beloof om die sesde April “tot eer van God met danksegging te vier en vir altyd tot ’n vasblywende dank- en biddag in te stel, sodat daarby die weldade van die Here wat aan ons bewys is, deur ons nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar altyd tot sy eer in gedagtenis en herinnering gehou sal word.”

Hierby bid hy in 1652 by sy aankoms en vra God om hulle te help dat “onder hierdie wilde brutale mense indien moontlik u ware gereformeerde Christelike leer mettertyd voortgeplant en uitgebrei mag word, tot die lof en eer van u Heilige Naam …” Voeg jy hierdie gebed en die gelofte saam, dan besef jy dat ons ’n verantwoordelikheid het. Ons staan op die skouers van ons voorouers met die verantwoordelikheid om die gereformeerde leer te bewaar en uit te bou. Dit is wat ons hier by Lig in Duisternis Uitgewers probeer doen. As rentmeesters staan ons op die skouers van reuse wat die Lig wat in die Christelik gereformeerde tradisie aan ons toevertrou is, wil koester en bewaar sodat God se weldade nooit vergeet mag word nie.

Foto: Timothy EberlyUnsplash

Deel graag met jou vriende

Waar’s Appelkie die muis?

Appelkie