Wanneer jy die woord “Kersfees” hoor, wat is die eerste gedagte wat by jou opkom? Spesiale tye saam met vriende en familie, Kersgeskenke, ‘n Kersboom, ‘n vakansie by die see?
Wanneer jy op Oukersaand of Kersdag saam met vriende en familie kuier, lag en geskenke oopmaak, of rondry om die Kersliggies in jou omgewing te besigtig, onthou dan waaroor die feesseisoen werklik gaan. Die gesellige byeenkomste saam met familie, waar Kersliedere gesing word en lekkernye jou maag wil laat bars, is nie net ‘n viering van die verbondenheid aan mekaar nie, maar ook ‘n herinnering aan die liefde, die fokuspunt van die Kersverhaal. Hierdie tradisies moet ons allereers herinner aan die nederige geboorte in ‘n stal, ‘n gebeurtenis wat hoop en verlossing vir die wêreld gebring het.
Ons leef in ‘n wêreld waar Kerstyd deur buitensporige geskenkuitruilings en skouspelagtige vertonings oorheers word. Hierdie feestyd nooi ons jou uit om verby die oppervlakkige klatergoud te kyk en te onthou waaroor dit alles werklik gaan.
Wanneer die liggies om jou glinster en die klanke van Kersliedere die lug vul, neem ‘n oomblik om dieper in jou hart te delf. Onthou dan dat Kersfees ‘n viering van die geboorte van ons Verlosser is – ‘n Kindjie wat nie net in ‘n stal gebore is nie, maar steeds in die harte van mense regoor die wêreld leef.
Mag hierdie Kersfees ‘n herinnering wees dat ware vreugde nie in materiële dinge lê nie, maar in die gawe van liefde, vriendelikheid en omgee vir mekaar. Mag ons nie vergeet nie dat die grootste geskenk van almal nie in glanspapier verpak is nie, maar in die hande van ons naaste.
Foto: Helena Lopes | Unsplash
