Dit is ’n opdrag wat die Here Jesus lank gelede aan sy dissipels gegee het, maar wat vandag nog net so aktueel is: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hierdie woorde uit Matthéüs 14:16 is vir ds. Schalk Strauss meer as net ’n teks. Dit is die hart van sy boek, Gee julle vir hulle iets om te eet, wat ’n praktiese hulpmiddel is vir ouderlinge en ander ampsdraers om met meer sekerheid en diepte huisbesoek te doen.
Ds. Strauss is medeleraar van die AP Kerk Grootfontein (Tvl.) en publikasiehoof by Lig in Duisternis Uitgewers. Meer as twintig jaar in die bediening het hom geleer dat die begeerte om te dien nie altyd gepaardgaan met die gereedskap om dit te doen nie.
“Ek het oor die jare ’n groot leemte agtergekom by ampsdraers wat nie altyd weet hoe om die Woord deel van huisbesoek te maak nie,” sê hy. “En omdat hulle nie noodwendig dieselfde teologiese onderbou as ’n predikant het nie, voel hulle baiekeer onbevoeg. Die gevolg is dat huisbesoeke oppervlakkig bly. Dit gaan oor die alledaagse dingetjies en dan net voor die ouderling moet verdaag, lees hy gou ’n versie uit die Bybel en doen ’n kort gebed.”
Die keuse van Matthéüs 14:16 as grondteks was vir ds. Strauss geen lukrake besluit nie. Waar die dissipels die skare wou wegstuur omdat dit aand geraak het en daar nie genoeg kos was nie, het Jesus vir hulle gesê: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Vir hom lê die diepte van hierdie opdrag juis in die “julle”.
“Partykeer is ampsdraers van mening dat leraars huisbesoek moet doen omdat hulle daarvoor opgelei is. Maar die Here sê eintlik vir ons almal wat sy dissipels is: ‘Gee julle vir hulle iets om te eet.’ Julle het die Woord. Gaan breek dit vir hulle sodat hulle versadig kan word.” Dit is dan ook die boodskap wat deur die boek se dertig konsepte loop: Jy hoef nie ‘n teoloog te wees om iemand geestelik te voed nie. Jy moet net bereid te wees om met die regte hulpmiddels voorbereid huisbesoek te doen.
Die idee vir die boek het nie in ’n vakuum ontstaan nie – ‘n gemeente op Ermelo het ds. Strauss die eerste keer gevra om iets oor huisbesoek op skrif te stel. Hulle wou meer eenvormigheid in huisbesoeke inbou, maar meer as dit: Hulle wou weet hoe om dit na ’n dieper vlak te neem.
“Toe het ek besef dat daar eintlik ’n behoefte is aan ‘iets met meer om die lyf’, iets wat ampsdraers bemagtig en in staat stel om hul huisbesoeke te verbeter.”
Ds. Strauss se jare lange gewoonte om dagstukkies te skryf, het uiteindelik die grondstof geword vir die konsepte in die boek. Die uitdaging was om daardie materiaal om te skakel in iets wat ’n ouderling, sonder formele teologiese agtergrond, ook kan gebruik, selfs al lees hy dit net af.
Elke konsep in die boek volg dieselfde patroon: ’n doelwitstelling, ’n Skrifgedeelte, inleidende besprekingsvrae, ’n teksbespreking en ’n voorstel vir gebed. Ds. Strauss is oortuig dat hierdie struktuur nie beperkend is nie, maar bevrydend.
“Ek het nog altyd gevind dat ’n goeie struktuur dinge makliker maak. Die doelwit is belangrik, want jy moet weet waar jy wil uitkom. Dan is daar vrae om ’n gesprek aan die gang te sit, wat nie ’n kruisondervraging wil wees nie. Die bedoeling is om verkeerde denke of tekortkominge oor ’n onderwerp te ontbloot, en dan volg die bespreking van die teks.”
Hy beklemtoon dat al die vrae nie noodwendig gevra hoef te word nie. “Dit is rigtingwysers, nie ’n kontrolelys nie.”
Die boek is ook stewig gegrond in die Drie Formuliere van Eenheid, iets wat vir ds. Strauss baie na aan die hart lê. “Lidmate besef nie hoe baie enige onderwerp wat ons in die kerk behandel, deur ons belydenisskrifte gedek word nie. Dit is die veilige heinings wat jou keer dat jy nie van die pad afdwaal in jou interpretasie van die Skrif nie.”
Vir die keuse van die dertig temas het hy opsetlik wyd gedink. Hy wou temas hê wat aktueel is, maar nie tydgebonde nie. Temas vir jong mense en ouer mense, vir mense in beproewing, vir dié met etiese vrae.
“Die konsepte oor die huwelik is waarskynlik my gunsteling,” skryf hy.
Die boek is ook veelsydig in sy gebruik. Buiten huisbesoek, kan dit in ’n Bybelstudiegroep gebruik word, as huisgodsdiens, of selfs as preekidees vir predikante. “Die oordenking oor die teksgedeelte gee eintlik ’n basiese struktuur wat maklik tot ’n preek uitgebou kan word.”
Ds. Strauss is eerlik oor wat hy oor die jare ervaar het. “Ampsdraers berei nie noodwendig goed genoeg voor nie. Hulle doen dit haastig, want dit is iets wat afgehandel moet word. Hulle dink nie mooi oor wie die mense is wat voor hulle sit nie, wat hul behoeftes is nie, watter vrae dalk gevra kan word nie.”
Maar hy is ook simpatiek. “Dit is vir leraars ook een van hul moeilikste take. Met huisbesoek kom jy in mense se intieme ruimtes in. Jy gee hulle die geleentheid om hul harte oop te maak, oor dinge te praat waarmee hulle nie noodwendig met ander sal praat nie. En dan kom jy agter mense het groter probleme as wat jy gedink het. En jy het nie altyd die antwoorde nie.”
Een van die minder voor die hand liggende insigte in die boek is ds. Strauss se siening van die lidmaat se eie rol. Die sukses van huisbesoek rus nie net op die ampsdraer se skouers nie.
“Baie lidmate wil dit net agter die rug kry. Hulle is nie altyd bereid om die geleentheid te gebruik om oor hul probleme te gesels of vrae oor die Bybel te vra nie. As jy weet die predikant of ouderling kom, gaan skryf ’n vraag of twee neer. As jy ongelukkig is oor iets, noem dit. Ons is so geneig om te sê ons sal maar self ons probleme dra. Ek dink dit is partykeer ons eie grootste ondergang.”
Is huisbesoek besig om uit te sterf? Is dit nog nodig? Dit is vrae wat al baie gevra is en ds. Strauss het ’n duidelike antwoord. “Ek stem nie saam dat dit ’n uitgediende gebruik is nie. As jy kyk hoe gereeld die Here Jesus by mense soos Saggéüs geëet en tyd met hulle deurgebring het, dan weet ons dat as ons in Christus se spore wil volg, ons altyd met hierdie werk besig moet wees.”
Die feit dat hy dertig konsepte neergeskryf het, is self al ’n stelling. Dit sê subtiel: Dit behoort nooit uit te sterf nie.
Ds. Strauss se lewe is een van “baie balle in die lug hou”. Hy is medeleraar, publikasiehoof, redakteur en boonop nog besig met verdere studies. Hoe hou hy dit alles in balans?
“Dit bly maar altyd ’n uitdaging,” erken hy. “Partykeer voel dit jy doen net die nodigste sodat die balle in die lug kan bly. Ek het ’n wonderlike vrou wat my ondersteun, ’n goeie kollega in die gemeente en ’n sterk kerkraad. Goeie beplanning is altyd deel van ‘n mens se sukses. En jy moet bereid wees om ekstra myle te stap.”
“Wat my net weer diep getref het, is hoe universeel nood is. Hoe die onderwerpe wat ek hanteer het, eintlik maar by ons almal spook. En as jy nie eers hierdie onderwerpe by jouself kan hanteer en die Skriflig daarop kan laat skyn nie, dan kan jy dit ook nie vir ander mense doen nie,” meen ds. Strauss.
Dit is, uiteindelik, die hart van die boek. Nie ’n handleiding vir “professionele kerklike werkers” nie, maar ’n oproep aan gewone gelowiges om die Brood wat hulle self ontvang het, vir ander te breek.
Gee julle vir hulle iets om te eet deur ds. Schalk Strauss is beskikbaar by Lig in Duisternis Uitgewers.
