Die man wat niks weggesteek het nie

Ons leef in ’n tyd van hoogtepunte. Op sosiale media wys mense hul beste foto’s, mooiste vakansies, slimste gedagtes. Niemand plaas sommer ’n foto van ’n slegte dag nie. Niemand skryf oor die dinge waaroor hulle hul skaam nie. Ons bou ons beeld sorgvuldig, en ons verwag dat ander dieselfde doen.

Dit maak Augustinus se belydenisse, geskryf in die vierde eeu, vreemd aktueel.

Augustinus was ’n briljante man, ’n gesogte retoriekdosent, later biskop van Hippo en een van die invloedrykste denkers in die geskiedenis van die Christelike kerk. Hy kon maklik ’n boek geskryf het wat sy reputasie “opgepoets” het. Belangrike manne het dit altyd gedoen. In plaas daarvan skryf hy oor hoe hy as kind vrugte gesteel en dit geniet het. Nie die diefstal self nie, maar die gevoel daarvan. Hy skryf oor sy jare van seksuele losbandigheid; oor hoe hy sy moeder bedrieg het om in die nag weg te sluip na Rome; oor hoe hy vir nege jaar ’n dwaalleer aangehang het en ander mense daarin saamgesleep het; oor hoe hy God t op al die verkeerde plekke gesoek het en dit eers laat in sy lewe reggekry het om te erken dat hy verkeerd was.

Hy probeer homself nêrens verontskuldig nie en bied geen versagtende omstandighede aan nie. Hy skryf nie asof hy eintlik ’n goeie mens was wat net swak omstandighede gehad het nie. Hy skryf soos iemand wat homself goed geken het en nie gehou het van wat hy gesien het nie.

Dit is nie selfkastyding nie, dit is eerlikheid. Dié soort eerlikheid wat die Bybel self van ons vra. Dawid skryf in Psalm 51:5: Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Dit is dieselfde toon. Geen verskoning nie. Net ’n man wat homself sien soos hy werklik is. En dit is juis in daardie eerlikheid waar iets los kom.

Wat sy eerlikheid so kragtig maak, is dat dit nie in isolasie staan nie. Augustinus bely nie net sy sonde aan die wêreld nie, hy bely dit aan God. Die hele boek is eintlik ’n gebed, ’n lang eerlike gesprek met ’n God wat tóg alles weet. Soos hy self skryf: “Hy raak nie in ’n regsgeding met God betrokke nie, want wie sal staande bly as God die ongeregtigheid aanskou?” Daar is ’n vryheid in daardie gedagte. As God tóg alles weet, is die enigste opsie om op te hou voorgee.

Dit is ook nie ’n boek oor wanhoop nie. Augustinus skryf as iemand wat aan die ander kant is, iemand wat terugkyk en die draad kan sien wat deur sy lewe loop, al het hy dit destyds nie raakgesien nie. Hy skryf oor ’n God wat hom nie gelos het nie, selfs toe hy self omgedraai en weggeloop het. Soos hy in die openingshoofstuk skryf: “Ons harte is onrustig in ons totdat dit rus vind in U.” Dit is die sleutel tot die hele boek. Die onrus was nie ’n fout nie, dit was ’n rigtingwyser.

Miskien is dit juis dit wat die boek vir die moderne leser so ongemaklik, maar tog so aanloklik maak. In ’n wêreld wat ons leer om onsself “op te poets”, was Augustinus gewoon eerlik: Oor sy foute, sy soeke, die jare wat hy vermors het, en oor die genade wat hom uiteindelik ingehaal het. Hy het nie gewag tot hy ’n beter weergawe van homself was voor hy begin skryf het nie. Hy het geskryf as iemand wat nog elke dag daarmee saamleef.

Dit is ’n boek wat jou nie toelaat om jouself te bly toedraai in jou eie verhaal nie. En dit is dalk juis hoekom dit ná 1 600 jaar steeds gelees word.

Die belydenisse van Augustinus, vertaal deur Jan Scholtemeijer, is beskikbaar by Lig in Duisternis Uitgewers. https://www.liginduisternis.co.za/product/die-belydenisse-van-augustinus/