Die geliefde dagstukkieboek deur JD Kestell, Uitgevryfde koringkorrels, het ná meer as 80 jaar weer ’n plek op lesers se boekrakke gevind. Met hierdie heruitgawe laat Lig in Duisternis Uitgewers ’n kosbare deel van die Afrikaanse Christelike erfenis vir ’n nuwe geslag lesers herleef.
JD Kestell, ook bekend as Vader Kestell, was ’n gerespekteerde predikant, Bybelvertaler, kerkvader en volksleier. Hy het hom onvermoeid beywer vir die bevordering van Afrikaans en was een van die dryfkragte agter die eerste Afrikaanse Bybelvertaling.
Die dagstukkies in Uitgevryfde koringkorrels kom oorspronklik uit Kestell se weeklikse oordenkings vir Die Kerkbode. Hierdie versameling is in 1941, kort ná sy afsterwe, as ’n gedenkuitgawe gepubliseer.
“Dit is ’n besondere voorreg om hierdie werk opnuut beskikbaar te stel. Uitgevryfde koringkorrels herinner ons aan die waarde van gereelde omgang met God se Woord en die geestelike erfenis van die geslagte voor ons. Mag hierdie heruitgawe lesers besiel om die Skrif met nuwe erns en verwondering te lees,” aldus ds. Schalk Strauss, Publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers.
Die titel verwys na die Bybelse beeld van koringkorrels wat uit are gevryf word. In sy voorwoord verduidelik Kestell dat hy elke Sondagnamiddag tyd ingeruim het om in die teenwoordigheid van die Here oor die Skrif na te dink en sy gedagtes met lesers te deel.
Die boek bied maandelikse dagstukkies wat temas soos aanbidding, die Lydensweke, sonde en vergifnis, genade, heiligmaking, liefde, Godsvertroue en Adventstyd dek. Dit bied lesers die geleentheid om regdeur die jaar by verskillende aspekte van die Christelike geloof en hul verhouding met die Here stil te staan.
Uitgevryfde koringkorrels is nou teen R165 by Lig in Duisternis Uitgewers beskikbaar.
