Lig in Duisternis Uitgewers kondig vandag die amptelike herbekendstelling van sy handelaarsregistrasieveldtog aan, ’n inisiatief wat lede van die publiek die geleentheid bied om geregistreerde handelaars van die uitgewery te word en sodoende ’n bykomende inkomste te verdien, terwyl hulle help om Christelike en Afrikaanse lektuur wyer te versprei.
Deur die aanlyn platform kan belangstellendes aansoek doen om as kommersiële handelaar, individuele handelaar (eenmansaak) of kolporteur te registreer. Geregistreerde handelaars verdien tussen 15% en 30% afslag op elke boek wat hulle verkoop. Voorraad kan bestel word soos benodig, wat die risiko en administrasie vir handelaars aansienlik verminder.
Die veldtog is spesifiek ontwerp om ’n wye spektrum belangstellendes te betrek, van skoliere en tieners wat hul entrepreneursvaardighede wil ontwikkel, tot pensioenarisse wat op soek is na ’n bykomende inkomste. Handelaars kan boeke verkoop by geleenthede soos markdae, sportdae en feeste, asook in hul eie gemeenskappe.
Ds. Schalk Strauss, Publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers, sê die veldtog spruit uit die uitgewery se begeerte om sy boodskap verder te dra as wat een organisasie op sy eie kan regkry. “Ons glo werklik dat elke boek wat uitgaan, iemand se lewe kan beïnvloed. Deur gewone lidmate en lesers die kans te gee om self handelaars te word, maak ons dit moontlik vir ons publikasies om plekke te bereik waar dit andersins nie sou uitkom nie. Dit is ’n manier waarop mense self deel kan word van hierdie missie, en terselfdertyd daarby baat.”
Hy voeg by dat die vereenvoudigde aanlyn proses spesifiek geskep is om die drempel vir deelname so laag as moontlik te hou. “Ons wou dit vir enigiemand, ongeag ouderdom of agtergrond, maklik maak om betrokke te raak.”
Aansoeke word aanlyn ingedien en vereis onder meer bewys van adres, ’n geldige ID-nommer en, waar van toepassing, ’n COR14.3-registrasiedokument. Ná goedkeuring ontvang handelaars hul faktuur (afslag ingesluit) en kan hulle onmiddellik begin verkoop.
Vir meer inligting of om aanlyn te registreer, besoek die webblad.
