Wenners van Lig in Duisternis Uitgewers-pryse aangekondig

Die wenners van die Lig in Duisternis Uitgewers-pryse (2022-2025) is Woensdag, 2 September 2026, tydens ’n glansgeleentheid by die AP Kerk Wonderboom bekendgemaak. Die pryse, wat tydens die Sewentiende Sinode van die AP Kerkverband oorhandig is, erken uitstaande bydraes op verskeie terreine van skryfwerk.

Volgens ds. Scalk Strauss, Publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers, is dit ’n voorreg  om hierdie pryse toe te ken. “Dit is verblydend dat skrywers aanhou om Afrikaanse en Christelike boeke te skryf wat ’n betekenisvolle impak op lesers het.

Die wenners in elke kategorie is soos volg:

Artikel in Die Boodskapper

Prof. HG Stoker, vir “Christelike getuienis teenoor ’n Moslemnaaste” (Jul./Aug. 2024)

Dagstukkies

Ds. PR Buitendag, vir Dagstukkies Augustus 2025 in Volg hulle geloof na

Vertalings

Mev. C Möller, vir Troue God: ’n Inleiding tot verbondsteologie (Antonio Coppola)

Niefiksie

Ons Tuis, vir Dek die tafel

Kinderboeke

Dr. AJ Swanepoel, vir Die katte van Kathu sit hul dorp oppi mêp

Teologies/Filosofies/Akademies

Ds. F Bijzet, vir Tussen doop en nagmaal

Algehele pryswenner

Dr. AJ Swanepoel, met Die katte van Kathu sit hul dorp oppi mêp

Spesiale vermeldings is ook toegeken. In die kategorie vir ’n artikel in Die Boodskapper, is prof. JAE Adendorff vereer vir “Eden as tempel, die tempel as Eden” (Mei 2024), terwyl proff. CA Swanepoel en J Bosman ’n spesiale vermelding in die kategorie Teologies/Filosofies/Akademies vir Tussen doop en nagmaal ontvang het.

Prysgeld is soos volg toegeken: Artikel in Die Boodskapper R1 500, Dagstukkies R1 500, Teologies/Filosofies/Akademies R3 500, Niefiksie R2 500, Kinderboeke R2 500, en Vertaalwerke R2 000. Die algehele wenner het R10 000 ontvang.

Die gasspreker, dr. Pieter Mulder, het oor sy eie skryfwerk gesels en gesê dat skryf ’n genadegawe van die Here is. Hy het uitgebrei oor hoe die lees van en skryf in Afrikaans help om die taal te laat voortleef.

Lig in Duisternis Uitgewers bedank AfriForum graag vir ’n aansienlike finansiële bydrae wat gehelp het om vanjaar se pryse moontlik te maak. So ook Reformeer vir die skenk van geskenkpakkies aan die wenners.